Update
OUDTSHOORN NUUS - Twee mans van Zimbabwe, wat Dinsdagmiddag inderhaas die toneel van 'n ligte botsing verlaat het, is in hegtenis geneem omdat hulle onwettig in die land is.
Die hele drama waarby polisiebeamptes, wetstoepassers en lede van die publiek betrokke was, het omstreeks 17:00 Dinsdagmiddag by die kruising van Voortrekkerweg en Adderleystraat begin.
'n Swart VW Polo en 'n wit Chev Spark het in Voortrekkerweg by die rooilig gestaan toe 'n groen Nissan Sentra die Chev van agter tref en dit teen die Polo stamp.
Volgens die bestuurder van die Chev was daar twee mans in die voorste sitplekke van die Nissan, met nog 'n man en 'n vrou op die agterste sitplek. Toe sy die bestuurder se besonderhede vra en op sy rybewys aandring het hy en die voorste passasier glo moeilik geraak, twee sakke met bagasie uit die motor gehaal en in die rigting van die Queen's Mall begin draf.
Iemand het die twee mans agtervolg en naby die Queen's Mall foto's geneem van die twee mans wat op 'n drafstap op pad na 'n wagtende bus was. Hulle het egter nie in die bus geklim nie, maar een het in 'n ander motor geklim.
Intussen het 'n wetstoepasser wat by die botsingstoneel was die polisie gevra om agter hom aan te ry om die twee mans te gaan soek.
Hulle het die mans in die parkeerarea van die winkelsentrum gekry, maar die mans het glo ontken dat hulle by 'n botsing betrokke was of dat hulle bagasie by hulle gehad het.
Die polisie het egter die sakke, wat op verskillende plekke neergesit was, ontdek en die mans en die sakke na die botsingstoneel teruggeneem. 'n Polisiehond is gebruik om deur die sakke te snuffel, maar daar was geen aanduiding van onwettige middels in die bagasie nie.
Terwyl Oudtshoorn Courant op die toneel was, het een van die mans wat agter in die vangwa was gesê hulle is van Zimbabwe, maar hulle dokumente is nie by hulle nie.
Die eienaar van die Sentra het aan Oudtshoorn Courant gesê dat sy die motor tydens die botsing bestuur het. Die bestuurders van die Chev en die Polo, sowel as 'n vrou wat die botsing sien gebeur het, het egter beweer dat die eienaar glo op die agterste sitplek van die Sentra gesit het tydens die botsing.
Die twee Zimbabwiërs en hulle bagasie is na die polisiestasie geneem. Sersant Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, het Dinsdagaand gesê die mans beweer dat hulle wettig in die land was en bloot haastig was om die toneel te verlaat omdat een van hulle op 'n bus moes klim wat enkele minute na die botsing sou vertrek.
Volgens hulle sou iemand in Oudtshoorn hulle dokumente na die polisiestasie bring. Michaels het egter vroeg Woensdagoggend bevestig dat die mans Dinsdagaand teen 22:00 geen dokumente kon toon nie en hulle is in hegtenis geneem op klagte dat hulle onwettig in die land is. Volgens haar word 'n klag van roekelose en nalatige bestuur ook ondersoek.
'n Deel van die ondersoek is om te bepaal wie die bestuurder van die voertuig tydens die botsing was.
'n Foto wat 'n lid van die publiek van die twee mans geneem het waar hulle die botsingstoneel verlaat. Die foto is aan die polisie gegee.
Die Nissan wat twee ander motors by die kruising van agter getref het.
Vorige artikel: Twee aangekeer na botsing
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'