Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - Twee mans wat 'n botsingstoneel by die kruising van Voortrekkerweg en Adderleystraat verlaat het, is 'n ruk na die botsing by die Queen's winkelsentrum aangekeer.
Die botsing het plaasgevind toe 'n groen Nissan Sentra van agter teen 'n Chev Spark en 'n VW Polo vasgery het.
Volgens die bestuurders van die Chev en die Polo, het die man wat na bewering bestuur het, moeilik geraak toe daar vir sy rybewys gevra is.
Minute later het die man en 'n passasier twee sakke bagasie gegryp en in die rigting van die Queen's winkelsentrum begin draf. 'n Munisipale verkeersbeampte en 'n polisievoertuig het die twee mans gaan soek en hulle na die toneel teruggebring.
Intussen het die eienaar van die Sentra beweer dat sy bestuur het, maar verskeie getuies betwis dit. Volgens hulle het sy en nog 'n man agter in die Nissan gesit.
Kyk 'n video hieronder:
Die twee mans en die bagasie is polisiestasie toe geneem vir ondervraging.
Sersant Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie het pas bevestig dat geen verdagte goedere in die sakke gevind is nie en dat die polisie wag om te bevestig of die twee wat van Zimbabwe kom, wettig in die land is.
Volgens haar, beweer die twee dat hulle die toneel verlaat het omdat een van hulle plek op n bus bespreek het, wat kort na die botsing sou vertrek.
Polisielede deursoek een van die sakke wat die verdagtes by hulle gehad het.
Foto's: Hannes Visser
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'