OUDTSHOORN NUUS - Twee mans wat op twee aanklagtes van huisbraak en diefstal skuldig bevind is, is in die streekhof onderskeidelik tien en ses jaar gevangenisstraf opgelê.
Conrad Frans (42) en Jeraldo Fortuin (20) is deur streeklanddros Ntsoki Moni daaraan skuldig bevind dat hulle die aand van 17 Februarie 2018 by die huis van Monica Prins ingebreek en onder andere 'n waaier, 'n stootwaentjie en luidsprekers gesteel het.
Hulle het later ook by die woning van Alida Prins, 'n familielid, in 'n huis op dieselfde erf, ingebreek en R2 500 kontant, 'n televisiestel, skoene en jeans gesteel.
Die hof het Frans en Fortuin se getuienis verwerp en die getuienis van 'n polisiebeampte, sers. Sherolene Koopman, as betroubaar bevind. Koopman het getuig dat Fortuin haar meegedeel het dat hulle die gesteelde goedere met 'n stootwaentjie na Frans se huis geneem het waar sy dit ook gevind het.
Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het toegegee dat Fortuin 'n ligter vonnis opgelê kan word omdat hy 'n eerste oortreder is teenoor Frans se ellelange lys van vorige veroordelings. Hulle is aan ernstige misdrywe skuldig bevind en die klaers is twee vroue. Die inbrake het in die nag plaasgevind en die beskuldigdes toon geen berou nie. Die een wys vinger na die ander.
Fortuin se regsverteen-woordiger, adv. Benito Metembo, het die hof versoek om in ag te neem dat dwelms 'n rol gespeel het en hy 'n eerste oortreder is.
Die landdros het met vonnisoplegging gesê sy kan haar indink wat met die vroue kon gebeur het want daar is nie getuienis voor die hof dat daar mans in die huise was nie.
Die hof het bevind dat enige buite straf onvanpas sal wees en 'n verkeerde boodskap sal uitstuur.
Jong oortreders moet ook besef dat hulle ingevolge die Kinderwet tronk toe gestuur kan word. Frans is tot tien jaar en Fortuin tot ses jaar gevangenisstraf gevonnis.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'