LADISMITH NUUS - Reitz Hugo en sy swart 1951 Citroën Light 15, is 'n bekende gesig in Ladismith se strate en dikwels het hy 'n bruid saam met hom. Dié bekende motorwerktuigkundige se veteraanmotor is 'n gewilde trou- en matriekafskeidmotor in Kannaland, maar wat baie mense dalk nie weet nie is dat Hugo die motor oor jare eiehandig en sorgvuldig gerestoureer het.
Hugo se pa het die motor in 1966 by 'n motorhandelaar in Laingsburg opgemerk en vir 'n skamele R40 gekoop. Die prys was laag omdat onderdele vir die spesifieke model baie skaars was en alhoewel die motor in 'n lopende toestand was, was dit gehawend.
"Ek het as laerskoolseun op ons plaas daarmee rondgery," sê Hugo en vertel dan dat hy in 1984 besluit het om die motor tot sy oorspronklike glorie te herstel.
Dit het ure en ure se sweet en 'n aansienlike bedrag gekos om die motor te restoureer. "Ek hom uiteindelik uit onderdele en bakwerk van drie ou modelle opgebou.
Die masjien, ratkas, dryfaste, uitlaatstelsel en brandstoftenk is uitgeruil. Daarna het ek die stoffering, bakwerk en chroomwerk getakel."
Kenmerkend van die motor is sy sogenaamde "suicide doors" wat van voor na agter oopmaak en die windskerm wat ook kan oopmaak. Op 'n vraag of hy dit sal oorweeg om die motor te verkoop, was die antwoord 'n besliste "Nee".
'Ons bring jou die nuutste Ladismith, Klein Karoo nuus'