OUDTSHOORN NUUS - 'n Man (20) van Smartie Town, op Oudtshoorn, wat 'n 16-jarige met 'n spanhoutjie oor sy kop geslaan en met 'n mes gesteek het is aan poging tot moord skuldig bevind is. Brandon Fortuin is Maandag in die Oudtshoorn-streekhof sewe jaar gevangenisstraf opgelê.
"Om iemand met 'n spanhoutjie oor sy kop te slaan kan tot die dood lei," het die staatsaanklaer, Elaine Plaatjies, gesê en die hof vir direkte gevangenisstraf gevra omdat dit die enigste gepaste vonnis vir die ernstige misdaad is.
Volgens haar is Fortuin gelukkig dat die klaer nog leef en hy nie teregstaan op aanklag van moord nie.
Sy het die hof versoek om sy verweer, dat hy uit selfverdediging opgetree het, te verwerp omdat die klaer nie 'n wapen by hom gehad het nie.
Fortuin se regsverteenwoordiger, adv. Shaun Ferreira, het die hof om korrektiewe toesig gevra omdat Fortuin 'n eerste oortreder is.
Volgens hom het alkohol die dag 'n rol gespeel.
Daar was 'n stryery oor dobbelgeld en die staatsgetuies het mekaar weerspreek.
"Die beskuldigde het nie die intensie gehad om die klaer dodelik te beseer nie. Hy het self geskrik en weggehardloop en toon berou oor wat hy gedoen het," het Ferreira betoog.
Streeklanddros Daniël Boks het Fortuin se weergawe as vals verwerp.
Hy het met vonnisoplegging gesê dat die belang van die gemeenskap sterk na vore kom en 'n vonnis opgelê moet word wat verhoed dat die reg in eie hande geneem word.
Hy het in ag geneem dat Fortuin 'n eerste oortreder is, nog betreklik jonk is en 'n mate van genade betoon moet word.
"Die hof moet ook 'n vonnis oplê wat andere en ook die beskuldigde sal afskrik. Die klaer het lewensgevaarlike beserings opgedoen en in drie hospitale daarvoor behandel.
"Dit is net danksy mediese ingryping dat hy nog leef."
Fortuin is tot sewe jaar gevangenisstraf gevonnis waarvan twee jaar voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort is. Hy is ook onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'