OUDTSHOORN NUUS - Die 19-jarige Jaydrian Goliath van Schoemanshoek, wat saam met drie vriende 'n man van sy skootrekenaar, selfoon, kontant, rugsak en motorsleutels beroof het, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof gevangenisstraf van ses jaar opgelê.
Goliath het skuldig gepleit op aanklag van roof met verswarende omstandighede terwyl sy vriende nie voor die hof gebring is nie.
Hy het erken dat hulle die aand van 6 Maart 2020 vir Dylan Loff met 'n mes gedreig en hom beroof het.
Goliath se regsverteenwoordiger, Lizanne Prinsloo, het die hof vir afwyking van die voorgeskrewe minimum vonnis van 15 jaar gevangenisstraf gevra omdat hy 'n eerste oortreder is en die skuld op hom geneem het.
Hy het nie die hof se tyd gemors nie, wat gesien moet word as 'n teken van berou.
Die klaer het ook nie enige beserings opgedoen nie terwyl dit vier persone was wat hom beroof het. Sy het gesê Goliath het met verkeerde vriende betrokke geraak.
Die staatsaanklaer, Corné Pretorius, het die hof vir langtermyngevangenisstraf gevra omdat dié soort misdaad algemeen in die hof se bedieningsgebied voorkom.
Streeklanddros Sylvia Mandla het met vonnisoplegging gesê die belang van die gemeenskap kom sterk na vore wat verwag dat hulle beskerm moet word.
'n Gevaarlike wapen is gebruik om die klaer te dreig en dit moes vir hom 'n traumatiese ervaring gewees het.
Die skootrekenaar is nie teruggevind nie en die hof is nie seker of Goliath skuldig gepleit het as gevolg van die verdoemende getuienis nie. Die landdros het wel bevind dat 'n vonnis van 15 jaar te swaar sal wees en daar wel buitengewone omstandighede bestaan om daarvan af te wyk.
"Die vonnis van ses jaar gevangenisstraf sal die beskuldigde hopelik ook tyd gee om te leer uit sy foute," het die landdros gesê.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'