OUDTSHOORN NUUS - 'n Man (25) wat sy saamleefmaat op Kersdag 2017 met 'n besemstok geslaan en haar enkel gebreek het is Maandag in die Oudtshoorn streekhof aan aanranding om ernstig te beseer skuldig bevind en vyf jaar gevangenisstraf opgelê.
Streeklanddros Daniel Boks het met die vonnisoplegging van Elton van Vuuren gesê hy is aan ‘n ernstige misdryf skuldig bevind en dat ‘n opgeskorte vonnis soos deur sy regverteenwoordiger versoek is, ‘n verkeerde boodskap in Vrouemaand sal uitstuur.
Hy moet afgeskrik word en so ook andere wat hul hande vir vroue oplig en selfs wapens gebruik. Die hof het egter in aanmerking geneem dat hy skuldig gepleit en dit ‘n mate van berou is.
Van Vuuren is ingevolge Art 276 (1) (i) gevonnis wat beteken dat hy na die uitdiening van 'n sesde van die vonnis om parool aansoek kan doen.
Hy is ook onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'