OUDTSHOORN NUUS - 'n Jong ma van Rietfontein in die Oudtshoorn-distrik, wat 'n beskermingsbevel verontagsaam en haar eie seun met 'n plank in die gesig geslaan het, is verlede week in die streekhof skuldig bevind en tronkstraf opgelê.
Krizelda Rabie (22) het skuldig gepleit op die twee aanklagte.
Sy het haar 65-jarige ouma teen die grond gegooi en haar driejarige seuntjie raakgeslaan toe sy glo na haar ma se kêrel wou slaan. Sy het nie bedoel om die kind raak te slaan nie en het glo baie groot geskrik.
Die staatsaanklaer, Brandon Smith, het Rabie se verduideliking aanvaar, maar gesê dat sy nie haar omstandighede vir haar optrede moet blameer nie.
Die feit dat sy 'n hofbevel verontagsaam het, toon ook dat sy geen respek vir die hof toon nie.
Streeklanddros Sylvia Mandla het bevind dat Rabie roekeloos opgetree het, maar tog bevind dat daar wel wesenlike en dwingende omstandighede bestaan om af te wyk van die minimum vonnis vir aanranding om ernstig te beseer.
Sy het skuldig gepleit en alhoewel die kind nie ernstige beseer is nie, sal direkte gevangenisstraf die enigste gepaste vonnis wees.
Die twee aanklagte, oortreding van 'n beskermingsbevel en aanranding met die opset om ernstig te beseer, is vir vonnis saamgeneem en Rabie is gevonnis tot vyf jaar gevangenisstraf.
Sy kan na tien maande om parool aansoek doen.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'