OUDTSHOORN NUUSFLITS - Ricardo Fourie (43,) wat die afgelope naweek die slagoffer van 'n tref-en-trap was, is gisteraand oorlede.
Volgens kaptein Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, het die voorval in Swawellaan gebeur.
'n 37-jarige man, John Donson, is Sondag op 'n poging tot moord-klag in verband met die voorval in hegtenis geneem. Die klag sal nou na moord verander.
Donson het reeds Maandag in die hof verskyn.
Rauweida de Villiers, Fourie se suster, het die week aan die Oudtshoorn Courant gesê dat haar broer ernstige beserings in die ongeluk opgedoen het.
"Die bakkie se voorwiele is tweekeer oor my broer. Hy het vier nekwerwels gebreek en ersntige beserings aan sy lae rug opgedoen. Sy kop is in die ongeluk oopgekloof en sy arm is gebreek. Hy is die naweek na 'n hospitaal in Kaapstad oorgeplaas, maar die dokters sou hom terug George-hospitaal stuur omdat daar niks verder was wat hulle vir hom kon doen nie. Hy was van sy nek af verlam."
Fourie was die pa van vyf kinders tussen die ouderdomme van twee en 18 jaar oud.
Lees die volledige berig in Vrydag se Oudtshoorn Courant, asook aanlyn.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'