Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - 'n Jong man, Pietro Klaassen (24) , is laat Saterdagaand, 25 Februarie, deur 'n voertuig in Dassieweg, Bridgton omgery en vir dood agtergelaat. Die bestuurder van die voertuig het glo nie stilgehou om hulp te verleen nie, maar van die toneel gevlug.
Volgens Gretchen Michaels, woordvoerder van Oudtshoorn-polisie, het die voorval voor die Klein-Karoo Rooivleis Abattoir plaasgevind en is 'n saak van strafbare manslag geopen.
Audrey Klaassen, moeder van die oorledene, sê dat Pietro verlede Saterdag-aand deur 'n sekerheidswag, wat by die abattoir werk, gevind is.
Die familie het eers die volgende oggend van die ongeluk te hore gekom.
Audrey vertel dat Pietro net na 20:00 dié betrokke aand vir haar gesê het dat hy van plan is om by die huis te kom slaap, maar dat hy net gou 'n draai wil gaan loop.
"Ek kon sien hy het 'n doppie in, maar hy was nie dronk nie," vertel Audrey. Sy sê dat sy ingesluimer het, want toe sy Sondagoggend wakker word, het vriende vir haar gevra of Pietro by die huis geslaap het.
Sy het bekommerd geraak en die Oudtshoorn-hospitaal gebel nadat sy gehoor het dat die persoon wat omgery is, moontlik Pietro kon wees. Die hospitaal-personeel het bevestig dat 'n onbekende persoon die vorige aand by die hospitaal opgeneem is, maar dat die liggaam na die polisie se forensiese-eenheid geneem is.
"Ons het na die forensiese-lykshuis gegaan, hulle het die liggaam vir ons gewys, my oog het net vinnig gevang dis hy wat daar lê," vertel Audrey.
Volgens Audrey het Pietro by sy neef in GG-kamp gekuier en het hulle daar vir hom gesê om nie huis toe te stap nie, maar daar te oornag.
Pietro word deur sy familie as nederig, stil en hulpvaardig beskryf. "Hy was 'n nederige kind, altyd tevrede met alles; hy het geen lelike woorde gehad nie." Hulle vertel dat sy dogtertjie (4) sy hele lewe was en dat hy baie lief vir haar was.
Pietro Klaassen. Foto: verskaf
Ubunthu-sekuriteit
Gallow Blou, sekuriteitswag van Ubunthu-sekuriteit, het die betrokke aand by die abattoir gewerk en vertel dat hy besig was om sy rondtes te loop toe hy in die omgewing van 23:20 'n harde slag in Dassieweg gehoor het.
"Die slag was so hard dat ek gedink het dit is twee voertuie wat gebots het," vertel hy. Volgens hom het hy dadelik na die ingangshek van die abattoir gehardloop en sy kollega gevra om die telefoon te gaan haal sodat hulle Mark Collins, eienaar van Ubunthu-sekuriteit, kon skakel.
Collins vertel dat hy dadelik die polisie en nooddienste ontbied het na die oproep van Blou.
Volgens Blou was daar geen omstanders of voertuie op die toneel nie.
"Ek wou so vinnig as moontlik optree, want ek kon sien hy haal nog asem. Dit kon net sowel my kind gewees het," vertel Blou. Om te sorg dat niemand oor Pietro ry nie, het Blou en sy kollega die verkeer gereguleer totdat die ambulans op die toneel aangekom het.
"Ons kan nie baie inligting gee nie, nie eens vir die polisie nie, die beskuldigde het net weggejaag en ons het nie gesien hoe die voertuig lyk nie," sê Blou.
Kranslegging
Leon Campher, misdaad-bekampings-aktivis, Oudtshoorn-raadslid en Dysselsdorp-gemeenskapsleier het op Facebook sy misnoeë oor die ongeluk uitgespreek en gesê dat hy die voorval as 'n ernstige misdaad beskou. Campher het Dinsdagaand 'n kranslegging by die ongelukstoneel gehou en 'n kruis en kranse teen die lamppaal waar die ongeluk plaasgevind het, gehang. Familie, vriende en sowat 200 inwoners het die geleentheid bygewoon. Campher het die publiek gemaan om saam met hom teen misdaad te veg, en 'n beroep op die publiek gedoen om betrokke te raak. Hy het ook tydens sy gesprek 'n uitnodiging uitgereik aan die publiek om hom te kontak en deel van 'n misdaadbekampingsveldtog te word. Hy voer aan dat die publiek leiding moet begin neem, want hy kan dalk môre nie daar wees om te help nie.
Die familie vra dat die beskuldigde na vore moet kom sodat hulle berusting kan kry oor Pietro se dood - hy laat sy dogtertjie, ma, twee susters en 'n broer agter.
Die roudiens is Saterdag om 10:00 by sy ouerhuis en die kerkdiens om 11:00 by die PPK in Bridgton plaasvind.
VIDEO - Kranslegging van Pietro Klaassen
Audrey Klaassen vertel dat sy haar seun ongelooflik mis en dit vier dae is sedert sy hom laas gesien het.
'n Bedroefde Audrey Klaassen, by die kransoplegging van haar geliefde seun, Pietro Klaassen.
Sheriden Hess, suster van Pietro Klaassen word deur haar neef,Jo-ando Pieterse getroos
Gallow Blou wys na die nog sigbare bloedkol waar hy Pietro Saterdagaand gevind het.
Foto's: Sonia Wahl
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'