OUDTSHOORN NUUS - 'n Groot groep toergidse het verlede Donderdag Oudtshoorn as die laaste been van hul opvoedkundige toer, Coastal Journey of the Cradle of Human Culture, besoek. Volgens Jeremy Howard van die Cape Tourist Guide Association, was Mosselbaai, Stilbaai, Plettenbergbaai en George ook by die toer ingesluit.
"Hier het toergidse, wat gewoonlik die toergroepe na dorpe bring, die geleentheid gekry om self die toere te doen en so ook meer te leer oor wat elke dorp bied. Dit is vir gidse ook belangrik om op hoogte te bly van akkommodasiegeriewe wat in dorpe beskikbaar is."
Volgens hom het die Covid-19-pandemie veral toergidse in Suid-Afrika erg geraak.
"Ons besigheid hang meestal van oorsese toeriste af. Plaaslike toeriste glo nie eintlik daarin om toergidse te gebruik nie, dalk omdat daar nie so 'n groot taal-barrier vir hulle is nie, of dalk dink hulle hulle weet genoeg van 'n sekere gebied om self die toer te kan doen. Toergidse speel eintlik 'n baie groter rol as net om mense van een plek na die volgende te neem. Hulle het 'n magdom kennis wat hulle met baie passie met toeriste wil deel. Ook met plaaslike toeriste. Daar is plekke waaraan plaaslike toeriste nie eens dink om te besoek nie, maar wat 'n goeie toergids hulle kan wys."
Volgens Howard het die gidse baie nuwe kennis tydens hul toer opgedoen.
"Dit was definitief 'n belewenis en absoluut die moeite werd om dit te doen. Ons toergidse het baie geleer en sien uit daarna om weer toergroepe na die dorpe wat besoek is te bring."
Toergidse voor die ingang van die Kango-grotte. Foto: Allie Mogamat
Een van die toergidse oefen om deur die nou tonnels van die grotte te klim. Foto's: Allie Mogamat, Cape Select Tours
'n Toergids by die Kango-grotte.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'