Update
OUDTSHOORN NUUS - Die verhoor van ‘n Nigeriese burger, wat in 2017 buite Oudtshoorn met tik van sowat R3,6 miljoen in sy besit in hegtenis geneem is, is onlangs in die streekhof na die getuienis van ‘n polisiebeampte van Kaapstad uitgestel.
Samuel Orama staan tereg op aanklagte van handeldryf in, en besit van dwelms asook die oortreding van die Immigrasiewet.
Hy is op Maandag 8 Mei 2017 op die George-pad buite Oudtshoorn saam met drie ander mans in hegtenis geneem nadat die polisie 'n verdagte voertuig van die pad getrek en deursoek het.
Die klagtes teen die drie ander verdagtes is deur die staat teruggetrek.
Orama het volgens die ondersoekbeampte, ao. Jacobus Groenewald, probeer weghardloop, maar is deur lede van die polisie ingehaal en in hegtenis geneem.
Thando Daki, ‘n lid van die polisie wat in Kaapstad gestasioneer is, en net soos Orama ‘n rygeleentheid vanaf Port Elizabeth na Kaapstad gekry het, het getuig dat hy vir twee dae in aanhouding was ten spyte daarvan dat hy bewys gelewer het dat hy ook ‘n polisiebeampte is. Hy het ook ‘n polisie-oorbaadjie aangehad.
Daki het egter toegegee dat die lede net hul werk gedoen het en hy ook so sou optree. Die polisie het beslag gelê op sy selfoon wat hy nou nog nie teruggekry het nie.
Die eienaar van die voertuig wat deur die polisie van die pad getrek is, het getuig dat hy vir Orama en Daki asook nog ‘n man ‘n geleentheid vanaf Port Elizabeth gegee het en nie geweet het wat binne in die sakke was wat hulle by hulle gehad het nie.
Nadat almal hul sakke uitgeken het was daar nog ‘n rooi sak met die dwelms wat niemand wou eien nie.
Sers. James Bouwers, het getuig dat hy op patrolliediens was toe hy ‘n oproep gekry het om bystand te verleen nadat die polisie ‘n wit Volkswagen Jetta naby die diesel-depot net buite Oudtshoorn van die pad getrek het. Die dwelms was in ‘n rooi sak het hy getuig.
Die saak dien voor streeklanddros Retha Pretorius en Orama bly in aanhouding. Willem Vister is die aanklaer.
Lees vorige artikels hier:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'