OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen 'n Nigeriese burger wat teregstaan op aanklagte van handeldryf in, en besit van dwelms ter waarde van sowat R3,6 miljoen, is vir verhoor in die streekhof tot 21 November uitgestel.
Landdros Lorraine Samuels het borgtog aan die verdagte, Samuel Orama, geweier omdat sy van mening is dat dit nie in belang van geregtigheid is om borgtog aan hom toe te staan nie. Volgens haar is daar ook 'n moontlikheid dat hy kan vlug.
Die ondersoekbeampte, ao. Jacobus Groenewald, het Orama se borgtogaansoek teengestaan terwyl sy regsverteenwoordiger, Thelishia Piedt, versoek het dat borgtog wel toegestaan moet word omdat die beskuldigde oor 'n vaste adres en werk beskik en nie 'n vlugrisiko is nie.
Die klagtes teen drie mans wat saam met Orama in hegtenis geneem is, is later deur die staat teruggetrek omdat hulle volgens Orama niks met die aangeleentheid te doen het nie. Volgens die ondersoekbeampte het Orama probeer weghardloop toe die dwelms in 'n rooi sak, wat aan hom behoort, gevind is.
Lees 'n vorige artikel: Nigeriër se borgaansoek uitgestel
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'