Update
PRINS ALBERT NUUS - Honger, dors, uitputting, blootstelling aan die elemente en uiteindelik disoriëntasie het waarskynlik tot die dood van 'n Prins Albertse tiener (16) gelei nadat sy en haar jonger broer (10) byna vier dae lank in 'n ruie, afgeleë gebied buite die dorp rondgedwaal het op soek na die pad na hul huis op die dorp.
Dit blyk dat Charmain Horn, pas voor haar dood verlede Donderdagoggend, vir Ricardo Horn vooruitgestuur het om hulp te soek toe sy nie verder kon loop nie.
Die seun is nét betyds in die landerye van 'n plaas buite die dorp opgespoor nadat die polisie, boere en plaaswerkers na die twee kinders begin gesoek het.
Hulle het voorverlede Sondag 'n staptog van sowat 25 km vanaf die plaas Boskop na hul huis in die woonbuurt, Noordeinde aangepak.
Charmain se liggaam is in 'n droë rivierloop op die plaas, Kelby Creek - in 'n heeltemal verkeerde rigting - gekry waar sy gesterf het, 'n hele ent van Ricardo af.
Boere wat op hom afgekom het, het aan Oudtshoorn Courant gesê Ricardo was baie swak en deurmekaar.
Hy kon nie verduidelik waar sy suster is nie, en hulle het hom met lemoensap en water gelawe. Insittendes van 'n ER-helikopter wat dieselfde oggend 'n soektog aangepak het, het Charmain uit die lug opgemerk. Die polisie se honde-eenheid is ook op dié dag ontbied.
Hul pa, Karel Malan, het met 'n besoek aan die huis gesê hy en hul ma, Louisa Horn, het nie 'n idee waarom die twee kinders die pad dorp toe gevat het vanaf die plaas waar hy as opspoorder van probleemdiere werk nie.
"Toe ons Sondagmiddag ná 'n middagslapie wakker word, was die kinders weg. Ons het dadelik begin soek en ek het hulle spore probeer volg. Ons het gesien hulle het kos en water saamgevat. Ek het Maandag weer hul spoor gevat, maar dit het in die bosse verdwyn. Dis asof die kinders in die rondte begin loop het. Hulle was seker bang om padlangs te loop."
Louisa, Charmain en Ricardo het drie weke gelede van hul dorpshuis na die plaas gestap om by Karel te gaan kuier. "Ek werk van plaas tot plaas, soos ek gekontrakteer word. Hulle het Boskop toe gestap, waar ek toe gewerk het. Charmain het die Sondagoggend gesê sy wil eerder teruggaan dorp toe. Ons het gesê sy kan nie daardie ent pad stap nie. Maar toe ons wakker word, was albei weg."
Maandag, tydens sy soektog, het Karel siek geword en moes omdraai huis toe. "'n Boer het my hospitaal toe geneem en vir Louisa na ons dorpshuis. Daar sien sy toe die kinders het nie daar opgedaag nie. Sy het die polisie ontbied."
Kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het by navraag bevestig die polisie van Prins Albert is Maandagaand laat oor die kinders se verdwyning ingelig. "Die polisie het onmiddellik met 'n volskaalse soektog begin." Volgens hom dui 'n voorlopige ondersoek aan dat Charmain aan blootstelling gesterf het en dat geen misdaad vermoed word nie."
Volgens Malan sou Charmaine op 25 Oktober, 17 geword het. Hy het ook genoem dat hulle vermoed dat Charmaine swanger was. "Ek het haar daaroor uitgevra. Dit lyk of dit so was, maar sy het nie daaroor gepraat nie," het hy Maandag gesê. Intussen probeer die gesin 'n begrafnis vir eerskomende Saterdag reël. Met die Oudtshoorn Courant se besoek aan die gesin se huis was Louisa by die hospitaal waar Ricardo nog herstel het.
Karel Malan met 'n skoolfoto van Charmain Horn. Weerskante is Charmain se twee broers, Michael (links) en Pieter Horn met skoolprestasiesertifikate wat sy op laerskool ontvang het. Foto: Marlene Malan
Vorige artikel: Tiener sterf nadat sy en boetie verdwaal
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Klein Karoo nuus'