PRINS ALBERT NUUS - Die liggaam van ’n tienermeisie van Prins Albert is gisteroggend (Donderdag 24 September) by ’n droë rivierloop buite die dorp gevind nadat sy aan blootstelling gesterf het.
Haar tienjarige broer, wat klaarblyklik saam met haar in ’n uitgestrekte, afgeleë gebied verdwaal het, is lewend, maar uitgeput en gedisoriënteer opgespoor en sterk tans in die Prins Albert provinsiale hospitaal aan.
Dit kom nadat die twee kinders Sondag ’n staptog van sowat 25 km vanaf die plaas Boskop na die dorp aangepak het.
Kaptein Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig.
Volgens hom ondersoek die Prins Alberts-polisie die sterfte van Charmaine Horn (16). Sy is die dogter van Karel en Louisa Horn wat in die dorp woon.
Voorlopige ondersoeke toon dat die oorledene en Ricardo Horn op Sondag (20 September) die laaste keer lewend gesien is toe hulle ’n huis op Boskop, waar die gesin gekuier het, te voet verlaat het. Hulle het gesê hulle gaan terugstap dorp toe, na die gesin se woonhuis.
Hul ma het hulle Maandag as vermis aangemeld toe sy by die huis kom en hulle nie daar was nie.
Pojie sê die polisie het onmiddellik na die kinders begin soek: “Die soekgeselskap het bestaan uit plaaslike polisiebeamptes en die K-9-honde-eenheid. Selfs lede wat met verlof was, het saamgesoek. Die soektog is uitgebrei na sowat twintig plase tussen Prins Albert en Klaarstroom. Daar is heel eerste gefokus op plase waar familielede woon.”
Net voor 08:00 Donderdagoggend het ’n werker van die plaas Drie Riviere die seun gevind, volgens Pojie. “Hy is onmiddellik na die plaaslike hospitaal geneem vir behandeling.”
’n EMS-noodhelikopter het net daarna Charmaine se liggaam in ’n droë rivierloop op die plaas Kelby Creek gevind.
Die nadoodse ondersoek toon voorlopig dat sy aan blootstelling gesterf het.
'Ons bring jou die nuutste Klein Karoo nuus'