OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-rugbyklub het die afgelope naweek 'n mylpaal soos min bereik toe die klub sy 140ste bestaansjaar gevier het as een van die oudste rugbyklubs in Eden.
Die A-span het met 62 - 19 teen die manne van die Ladismith geseëvier. Die klub is reeds in 1883 gestig.
Na hul wedstryd die afgelope naweek het hulle groot makietie by Route 62 Bar & Grill in Baron van Reedestraat in Oudtshoorn gehou.
Volgens Pieter Meyer, wat jare lank president van die klub was en tans erepresident is, het die klub reeds bietjie rugby voor die amptelike ontstaan van die klub gespeel en voor die amptelike SWD-rugbyunie gestig is.
George, Oudtshoorn, Mosselbaai en Riversdal was van die eerste rugbyklubs wat gestig is.
Oudtshoorn, saam met George, is volgens Meyer die tweede oudste rugbyklubs in SWD, met Mosselbaai wat slegs een jaar voor hierdie klubs se stigting in 1882 ontstaan het.
Meyer, wat ook 'n speler by die klub was, was van 2005 tot 2008 president van die klub en het 'n wye kennis van die klub se geskiedenis.
Volgens Meyer was die eerste voorsitter van die klub, Charles Anderson.
Rugby in Oudtshoorn is reeds in 1870 deur jong mans van die Oos-Kaap wat grensdiens hier verrig het begin speel. Hulle het die spel na bewering by Britse setlaars geleer. Later is die Suid-Westelike Rugbyunie gestig met George, Oudtshoorn, Mosselbaai en Riversdal as eerste lede.
Meyer vertel dat die Rec, of altans die Oudtshoorn-sportterrein, van die begin af die tuiste van die klub was. Die 'Groen Pawiljoen', soos dit bekendstaan, was in omtrent die 1840's, 'n pawiljoen vir perdewedrenne. "Maar die presiese datum is bietjie onseker," sê hy.
Nadat die perdewedrenne daar gestaak is, sê Meyer, het rugby en krieket op die veld oorgeneem.
Die rugbyklub het sy eerste Springbok in 1903 opgelewer, en toe ook in 1906. Volgens Meyer het die klub sedertdien vele nasionale rugbyspelers gehad. Frans Erasmus, Vlok Cilliers en Anton Leonard was van die vroeë plaaslike spelers wat op nasionale vlak gespeel het.
Daar was selfs spelers uit ander provinsies wat hier kom speel het en Springbokke geword het. Onder hulle is Loftie Fourie, Hansie Brewis en André Bestbier. Hulle het in Oudtshoorn skoolgegaan en later hul Springbokklere verwerf.
Die klub is byna so oud soos die dorp self, met inwoners soos Saag Jonker wat ook in die span was. As een van die oudste spanne in die distrik sal dit heel moontlik vir 'n verdere 140 jaar en meer bestaan.
Soos dr. Danie Craven gesê het: "Die spel sal altyd groter as die individu wees."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’