Update
OUDTSHOORN NUUS - Ten spyte van haar gebrek en voortdurende pyn, was Elsa du Preez 'n inspirasie vir haar kollegas by PNA en ook vir al haar klante.
Dié nederige en vriendelike vrou wat uit haar pad gegaan het om klante by te staan, is verlede week op 66 oorlede. Sy sou op 9 Desember 67 geword het.
Elsa was die afgelope 14 jaar ononderbroke in diens van PNA op Oudtshoorn.
"Waar begin mens as jy iets oor Elsa moet sê?" het haar werkgewer, Erika Fourie, Maandag gesê.
"Elsa was 'n wonderlike mens wat ander altyd bo haarself gestel het. Ten spyte van haar gebrek en die pyn wat sy daardeur moes verduur, het sy nooit oor haar gesondheid gekla of van die werk af weg gebly nie."
Fourie vertel dat Elsa soggens reeds om 07:00 met haar wit Fiat Uno op haar parkeerplek onder die bome by die Queen's-sentrum stilgehou het, gekyk het hoe mense van die bus op- en af klim en gewag dat die winkel oopgesluit word.
"Sy het meer as die ekstra myl vir elke klante gestap, en baie moeite gedoen om tydskrifte in die hande te kry wat iemand sou soek. Vir ons almal by PNA was sy 'n inspirasie. Sy was 'n vriendin, 'n suster en 'n ma vir haar kollegas." het Fourie gesê.
Kollegas van Elsa is dit eens dat sy 'n groot rol in mense se lewens gespeel het en ten spyte van haar eie pyn en uitdagings wou sy gereeld weet hoe dit met haar kollegas se gesinslede gaan en moed ingepraat wanneer sy kon sien iets pla.
"Vir Elsa het dit nie saak gemaak of jy oud of jonk, arm of ryk, bruin, swart of wit is nie, vir haar was jy belangrik en het almal met die grootste respek behandel," het een gesê. Volgens haar kollegas en werkgewer het Elsa nooit 'n lelike woord oor- of vir iemand te sê gehad nie en was sy 'n groot diereliefhebber wat haarself tweede sou stel om vir haar katte te sorg. Erika Fourie sê spesiale funksies was Elsa se gunsteling-aktiwiteit in die winkel.
"Wanneer ons funksies gehad het en volgens 'n tema moes aantrek, het Elsa altyd met die beste vorendag gekom. Rooikappie en Juffrou Rottenmeier was twee van die bestes."
Volgens Fourie het Elsa die afgelope tyd as gevolg van haar ruggebrek, baie met asemnood gesukkel en moes gereeld suurstof kry. Oor die verlies met die heengaan van Elsa, het sy gesê: "Haar heengaan is vir ons by PNA en haar familie 'n groot hartseer en groot verlies, dit voel of daar 'n gat in ons harte is. Ons salueer jou Elsatjie. Ons innige simpatie aan Andries, haar suster en broers en ander naasbestaandes."
Elsa du Preez se begrafnis is Donderdag 29 Oktober vanuit die Sewendedag-Adventiste kerk in St Saviourstraat.
Vorige artikel: Sy was almal se inspirasie
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'