BEAUFORT WES NUUS - Verlede Donderdag was 'n tragiese dag vir Beaufort-Wes nadat twee van die dorp se inwoners in twee afsonderlike botsings omgekom het.
In die eerste botsing omstreeks 13:30 is Anna Reitz (47) dood toe die Nissan TIIDA waarin sy 'n passasier was, reg van voor teen 'n Isuzu-bakkie gebots het.
Reitz was saam met haar werkgewer, 'n bejaarde vrou van 'n plaas naby Beaufort-Wes, vanaf Hartenbos op pad terug na die vakansie toe die botsing duskant die Robinsonpas plaasgevind het.
Volgens 'n ooggetuie wat op die toneel was, het die Nissan links van die pad afgery en ongeveer 50 meter verder skielik na regs geswenk en die aankomende bakkie reg van voor getref. Die Nissan het op die sykant beland en 'n karavaan wat deur die bakkie gesleep was, het losgebreek en 'n hele ent agteruit gerol totdat dit teen 'n rotswand tot stilstand gekom het.
Reitz is opslag dood en die bestuurder is met verskeie beserings na die Klein-Karoo Mediclinic geneem. Haar seun het Maandag bevestig dat sy gebreekte ribbes en verskeie kneusplekke opgedoen het en steeds in die hospitaal was.
Die bestuurder van die bakkie, 'n boer van Merweville, is nie beseer nie. Sy vrou en kinders was 'n aantal voertuie agter hom toe die botsing plaasgevind het. Hulle was na Hartenbos onderweg vir die vakansie.
Volgens hom het hy ongeveer 50 km per uur teen die opdraand uitgery toe die Nissan oor die pad swenk en sy bakkie tref.
Tweede botsing
Terwyl speurders en nooddienswerkers op die botsingstoneel by die Robinsonpas besig was, het nog 'n botsing tussen Oudtshoorn en George plaasgevind.
Honderde voertuie het verlede Donderdag weerskante van 'n botsingstoneel op die George-pad opgehoop nadat 'n Toyota Avanza gerol het.
Agt familielede, waaronder 'n kind, was vanaf George na Beaufort-Wes onderweg toe 'n agterband van die Toyota Avanza waarin hulle was, gebars het. Die voertuig het gerol en in die middel van die pad tot stilstand gekom.
Honderde voertuie het vir bykans 'n uur aan weerskante van die toneel opgedam voordat die pad vir eenrigtingverkeer oopgestel is. Slegs die bestuurder was ongedeerd. Twee vroulike passasiers is ernstig beseer en een van hulle is per noodhelikopter na die Mediclinic George geneem.
Paramedici het meer as 'n uur op die toneel gespook om haar te stabiliseer voordat sy in die helikopter gelaai is. Sy is egter kort na haar aankoms by die hospitaal oorlede.
Die oorledene was die motorbestuurder se skoonsuster. Hy het Maandag telefonies gesê sy dogter is nog in die hoësorgeenheid in George. Sy vrou en 'n manlike passasier was teen Maandag ook nog in die hospitaal.
Klagtes van strafbare manslag word in albei botsings ondersoek.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Klein Karoo nuus'