Update
OUDTSHOORN NUUS - 'n Groep straatkinders het dit Woensdagaand vir paramedici en ander nooddienspersoneel moeilik gemaak om hulle pligte by 'n ongelukstoneel uit te voer.
Terwyl paramedici 'n beseerde vrou moes stabiliseer moes die groep jeugdiges herhaaldelik verwilder word. Selfs 'n wetstoepasser wat verkeer moes reguleer moes telkemale die jeugdiges uit die pad verwilder.
Die botsing het net na 19:00 by die kruising van Voortrekkerweg en Hoogstraat plaasgevind.
'n Nissan bakkie met drie insittendes het uit Hoogstraat in Voortrekkerweg ingedraai toe die bestuurder se deur oopgegaan het. Die bestuurder en albei passasiers is uit die bakkie geslinger.
Die voertuig het sonder insittendes aanhou draai en die muur van 'n sakeperseel, Steves's Tyre and Exhaust getref.
Die bakkie het na die slag teruggerol en op die sypaadjie tot stilstand gekom.
Volgens inligting op die toneel het die vrou, wat deur paramedici behandel is, onder die wiele van die bakkie beland voordat dit die muur getref het.
Die groep van omtrent 12 straatkinders wat aan plastiekbottels gesuig het, het om die paramedici saamgedrom en het ook om die ambulans saamgedrom toe die beseerde vrou ingelaai is.
Paramedici het een van die vroulike insittendes op die toneel behandel na die bakkie oor haar bene gery het. Foto's: Liezl van Niekerk
Die ander passasier, 'n bejaarde vrou, het haar heup beseer en is ook per ambulans hospitaal toe geneem.
Ten spyte van die polisie en wetstoepassers se teenwoordig op die toneel het die straatkinders deur die hele toneel beweeg.
Die eienaar van die besigheid het ook sy hande vol gehad om die jeugdiges van die beskadigde muur weg te hou.
Na die botsing het 'n gedeelte van die muur in die lug gehang met 'n groot opening aan die onderkant. Die bestuurder van die bakkie is nie beseer nie.
Hy het op die toneel gesê hy onthou net dat die deur oopgegaan en hy die pad getref het. Hy was nie seker of die twee passasiers saam met hom uitgeval het nie.
Die beskadigde muur waar kinders ook verwilder moes word uit vrees dat die struktuur op hulle kon val. Foto: Hannes Visser
Lees 'n vorige artikel: Twee beseer in botsing
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'