OUDTSHOORN NUUS - Die eerste stap om die gemeenskap te betrek om oplossings vir die straakindprobleem in Oudtshoorn te vind, is verlede Donderdagaand geneem.
Ongeveer 140 mense het die beraad, wat deur die munisipaliteit, departement van maatskaplike ontwikkeling en die polisie aangebied is, bygewoon. Een van die projekte wat waarskynlik direk tot die beraad aanleiding gegee het was petisielyste wat die afgelope aantal weke in die dorp versprei is.
Inwoners is aangemoedig om die petisie te teken om druk op die owerhede uit te oefen om oplossings vir die straatkinders sowel as volwasse bedelaars en leeglêers op die dorp te vind.
Die Oudtshoorn Courant het op 26 Februarie berig oor die petisielyste wat deur Raymie Alberts en Francois Tiemie by besighede in die dorp versprei is. Op daardie stadium het Alberts gesê sodra hulle 1 500 handtekeninge het, wil hulle die petisie aan die burgemeester oorhandig. Inwoners het flink op die inisiatief gereageer en die petisie is Donderdagaand tydens die beraad aan Colan Sylvester, burgemeester van Oudtshoorn oorhandig.
Tydens die oorhandiging het Alberts gesê die doel van die petisie is nie om die straatkinders eenvoudig weg te jaag nie, maar om 'n volhoubare en positiewe oplossing vir die probleem te kry.
Dennis Ngonyama, die hoof van die department van maatskaplike ontwikkeling in Oudtshoorn, het breedvoerig die omvang van die straatkindprobleem verduidelik. Na aanleiding van sy aanbieding is dit duidelik dat daar geen korttermynoplossing vir die probleem is nie.
Ngonyama het verskeie faktore soos afwesige ouers, ekonomiese uitdagings, werkloosheid en alkoholmisbruik as veroorsakende faktore uitgelig.
Na sy aanbieding het deelnemers in vier groepe opgedeel waar daar op toerisme, veiligheid, besigheid en opvoeding en onderwys gefokus is. Na afloop van hulle onderlinge gesprekke is terugvoer aan almal gegee.
Daar is onderneem dat voorstelle en besluite wat geneem is, uiteengesit sal word en per e-pos aan deelnemers gestuur sal word. 'n Opvolgvergadering sal binne 'n maand geskeduleer word. Die burgemeester het inwoners aangemoedig om op 'n positiewe wyse betrokke te raak en hulle insette te lewer.
Lees 'n vorige artikel: Inligtingsessie oor straatkinders
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'