OUDTSHOORN NUUS - Glen Snyman, die man wat tien jaar gelede as 'n jong onderwyser die organisasie People Against Race Classification (PARC) gestig het, het sy droom om 'n boek oor PARC te publiseer, verwesenlik.
Snyman het reeds aan verskillende konsepte van 'n boek gewerk, maar verlede jaar tydens die inperkingstydperk sy boek The blind man's race voltooi.
Min of meer in dieselfde tyd wat hy sy boek voltooi het, het Snyman in September die nasionale media gehaal toe die Wes-Kaapse onderwysdepartement hom daarvan aangekla het dat hy sy ras doelbewus op 'n aansoekvorm verander het.
Snyman het in 2017 aansoek gedoen om 'n pos as skoolhoof en sy ras op een van die vorms as "African" aangedui. Dit is nie duidelik waarom die WKOD dit eers na drie jaar opgevolg het nie.
Hy het op 23 September 2020 kennis ontvang dat 'n tugverhoor op 14 Oktober 2020 gehou sou word nadat hy van bedrog en oneerlikheid aangekla is. Die verhoor het egter nooit plaasgevind nie aangesien die staat op die nippertjie besluit het om die saak terug te trek.
Snyman het die "fout" met opset begaan omdat hy hom reeds sedert 2010 deur PARC daarvoor beywer om die blokkies waar landsburgers hulle ras moet aandui deur die regering te laat verwyder.
Een van PARC se werkswyses is om mense aan te moedig om die woord "African" op alle vorms te gebruik eerder as om 'n ras of kleur aan te dui.
Alhoewel The blind man’s race PARC se strewe om met rasseklassifikasie weg te doen as tema het, en dit as agtergrond gegee word, skryf Snyman die boek as fiksie.
Die boek is 'n toekomsblik op wat moontlik sou gebeur indien PARC daarin sou slaag om die kwessie in die hooggeregshof te laat beland. Die grootste gedeelte van die boek gaan oor 'n fiktiewe hooggeregshofsaak wat in die toekoms afspeel en waar 'n regter moet besluit of rasseklassifikasie gestaak moet word of nie.
Die boek is by Snyman beskikbaar en kan op PARC se webtuiste bestel word. Dit is ook by H&R Stationers in Kerkstraat beskikbaar.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'