Die vliegskool, waarvan 70% deur die Chinese lugvaartmaatskappy AVIC besit word, lei hoofsaaklik Chinese vlieëniers op. Alhoewel almal dit eens blyk te wees dat die vliegskool 'n reuse ekonomiese inspuiting vir Oudtshoorn is, is daar ernstige kommer onder sommige rolspelers dat die nodige prosedures wat die goedkeuring van die vliegskool vooraf moes gaan nie gevolg is nie.
Die hoof uitvoerende beampte van AIFA, Willie Marais en Petri van Zyl van TFASA is Donderdagaand gepeper met vrae vanaf raadslede, inwoners en lede van die Oudtshoornse belastingbetalersvereniging.
Alhoewel sommige inwoners voet by stuk hou dat die vliegskool gesluit moet word blyk dit dat die ekonomiese voordeel van die skool 'n prioriteit by baie is. Raadslid Pierre Nel het aan die Oudtshoorn Courant gesê: "Mense is nie gekant teen die vliegskool of die eienaars nie, maar daar is 'n groot probleem met die munisipaliteit se prosedures t.o.v. die vliegskool. Hulle het eenvoudig nie die vasgestelde reëls gevolg voordat goedkeuring aan die vliegskool gegee is nie."
In 'n brief aan AIFA sê Raadslid Julia le Roux dat die vliegskool groot ekonomiese voordeel vir die dorp inhou, maar dat 'n voorlegging aan die hele raad gedoen moet word om te verseker dat daar deursigtigheid is aangesien die werksaamhede van die raad gekortwiek word deur amptenare wat 'n politieke spel speel.
Tydens die aanbieding het Marais verwys na die miljoene rande wat deur die vliegskool in Oudtshoorn se ekonomie gepomp word en het hy ook die versekering gegee dat alle werk op die perseel, hetsy konstruksie of onderhoud, aan besighede in Oudtshoorn gegee word. Een van die gaste het egter die stelling teegegaan en beweer dat die groot gebou wat teen etlike miljoene rande opgerig is deur kontrakteurs van buite gedoen is. In reaksie het Marais aan die Oudtshoorn Courant gesê "Slegs die makro struktuur van die 'hangar' is deur 'n George-kontrakteur opgerig. Verder is alle werk deur Oudtshoorn-kontrakteurs gedoen."
Kontrakte nog nie gesluit nie
Oor die bestaan van 'n kontrak tussen AIFA en die munisipaliteit, wat die eienaars van die lughawe is, blyk daar teenstrydige inligting te wees. Volgens Marais is daar 'n geskrewe kontrak by die munisipaliteit, maar volgens briewe ontvang vanaf die munisipale bestuurder, Thandekile Mnyimba sowel as die direkteur van korporatiewe dienste, Adv Francois Human, gedurende Maart en April was daar op daardie stadium geen kontrak tussen die munisiplaiteit en AIFA nie.
In sy brief aan 'n inwoner skryf Mnyimba; "No lease has been concluded with AVIC, AIFC or George Flight Trainig Centre for the purpose of operating a commercial flight training facility from the premises." By 'n volgende punt skryf hy:
" No contract document has been entered into and signed with AVIC or AIFC..."
In 'n antwoord op vrae vanaf die belastingbetalersvereniging het Human ook bevestig dat daar geen kontrak opgestel is nie en dat die huurinkomste blykbaar nie die munisipale uitgawes van die lughawe dek nie. Hy skryf: "Daar is geen kontrak tussen Oudtshoornmunisipaliteit en AVIC,AIFA,TFASA en/of George Flying Academy nie," en verderaan sê hy dat die huidige ooreenkoms onbevredigend is "aangesien die owerheid se uitgawes meer is dan die inkomste ontvang."
Publieke deelname
Volgens beswaardes was daar geen prosesse van publieke deelname of omgewingsimpakstudies voordat toestemming deur die munisipaliteit verleen is vir die vliegskool nie. In Human se skrywe bevestig hy dat, sover hy kon vasstel, daar geen publieke deelname of omgewingsimpakstudies was wat die opgradering van die lughawe en die werksaamhede van die vliegskool voorafgegaan het nie aangesien die opgraderings op 'n bestaande lughawe plaasvind.
In sy reaksie het Mnyimba Woensdag gesê dat daar wel publieke deelname was tydens die afgelope burgemeester imbizos waartydens die munisipaliteit se visie 2030 met inwoners gedeel is. Hy dui ook aan dat die munisipaliteit besig is om na die kontraktuele verpligtinge sowel as toekomsplanne vir die lughawe te kyk.
Die pad vorentoe
Uit reaksies wat ontvang is vanaf die verskillende rolspelers, asook briewe vanaf inwoners blyk dit dat die ekonomiese voordeel van die vliegskool 'n belangrike rol speel in besluitneming rondom die aangeleentheid. In 'n verklaring vanaf die besigheidskamer wys André van Greunen, die voorsitter, daarop dat Oudtshoorn ekonomies deur 'n geweldige krisis gaan en dat ekonomiese beleggings baie belangrik is vir die oorlewing van die dorp. Hy doen 'n beroep op inwoners, sakelui en organisasies om die probleme rondom die lughawe saam aan te pak en te bespreek.
Volgens Lizanne Pelham, van die belatingbetalersvereniging het hulle kennis geneem dat die munisipaliteit 'n onderneming gegee het dat geen kontrak met AIFA, AVIC en TFASA gefasiliteer word voordat 'n proses van publieke deelname afgehandel is nie en sal die OBV deurentyd die belastingbetalers op hoogte hou van die proses. Daar kon, met ter perse gaan, nie bevestig word of die departement van omgewingsake wel, soos wat deur 'n bron aan die Oudtshoorn Courant genoem is, per brief opdrag gegee het dat alle boubedrywighede by die lughawe gestaak moet word totdat 'n omgewingsimpakstudie gedoen is nie.

‘n Piper Warrior, een van AIFA se opleidingsvliegtuie, maak ‘n draai oor Oudtshoorn.
ARTIKEL: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR