OUDTSHOORN NUUSFLITS - Honderde honde vrek steeds maandeliks aan hondesiekte, ook bekend as canine distemper, wat November verlede jaar in die Oudtshoorn-omgewing uitgebreek het.
Volgens Odette Claassen-Streicher van Oudtshoorn Dogs in Need (ODIN), is daar in Februariemaand 165 honde weens dié siekte uitgesit. Dit is tussen vyf en ses honde per dag.
"In Desember is 33 dood, in Januarie 140 en sedert die begin van Maart ongeveer 50. Dit is slegs die syfers van die honde wat deur ons en die skut by hul huise opgetel en uitgesit word. Daar kan nog meer vrektes wees," het sy die week gesê.
Odette sê emosioneel, fisies en finansieel kry die vrywilligers van die munisipale-skut en ODIN swaar.
"Dit is nie net volwasse of ou honde wat ons moet uitsit nie. Ons moes al tefies met hul hele werpsel uitsit, want as die mamma dit het, het die kleintjies dit ook. Ons moes babahondjie uitsit wat, as hulle ingeënt was, heeltemal gesond kon wees en ons moes al hoogswanger tewe ook uitsit. Om daagliks met so iets te werk is werklik uitputtend."
Volgens haar gaan dit ook finansieel baie moeilik omdat daar vir elke dier wat uitgesit word, betaal moet word.
Enigiemand wat 'n skenking aan die munisipale-skut wil maak kan die skut by 044 203 3927 of Colleen Smith by 072 084 1374 skakel.
Lees 'n verwante artikel: Honderde dood weens hondesiekte
Lees die volledige berig in Vrydag se Oudtshoorn Courant, asook aanlyn.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'