OUDTSHOORN NUUS - Vonnisoplegging van Rigard Myburgh van Hartenbos, wat op drie aanklagte van verkragting en drie van seksuele aanranding van twee minderjarige seuns skuldig bevind is, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof tot 10 Augustus uitgestel.
Myburgh het tussen 2014 en 2019 die twee broers by verskeie geleenthede verkrag en seksueel aangerand.
Volgens die kinders se ma het hulle lank stilgebly hieroor omdat hulle haar glo nie wou seermaak nie. Sy was erg geskok toe sy uiteindelik daarvan te hore gekom het omdat sy Myburgh vertrou het.
Hy het al die bewerings van die kinders ontken en aangevoer dat hy nie weet waarvan hulle praat nie. Volgens hom het hulle die klagtes teen hom gemaak nadat hy die oudste betrap het met pornografie op sy selfoon.
Streeklanddros Sylvia Mandla het Myburgh se getuienis as vals verwerp en hom soos aangekla skuldig bevind.
Die staatsaanklaer, Anzelle Laubscher, vra die hof om nie af te wyk van die voorgeskrewe minimum vonnis van lewenslange gevangenisstraf nie vanweë die erns van die misdrywe wat die beskuldigde gepleeg het.
Laubscher het verskeie soortgelyke sake aangehaal waarin die beskuldigdes lewenslange gevangenisstraf opgelê is.
"Die beskuldigde was in 'n vertrouensposisie wat hy gruwelik misbruik het en toon geen berou nie. Daar bestaan geen wesenlike en dwingende omstandighede vir die hof om van die minimum vonnis af te wyk nie. Die hof moet die tydperk waarin die misdade met die seuns gepleeg is, hul ouderdomme, die pyn, vernedering en trauma wat hulle deurgemaak het, vir vonnis in ag neem en lewenslange gevangenisstraf op elk van die drie verkragtingsklagte oplê om sodoende die veiligheid van die slagoffers en moontlike toekomstige slagoffers te verseker. Die beskuldigde is 'n gevaar vir die gemeenskap en moet lewenslank agter tralies bly," het Laubscher betoog.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’