CALITZDORP NUUS - Die verhoor van drie mans, wat van roof met verswarende omstandighede aangekla word, is verlede Donderdag in die Oudtshoorn-streekhof na die sluiting van die staat se saak vir 'n Artikel 174-aansoek om ontslag uitgestel.
Henrico Lindt, Flip Abrahams en Malcolm Windvogel word daarvan aangekla dat hulle in die vroeë oggendure van 27 September 2014 twee broers in Valentynskamp beroof en die een met 'n mes gesteek het.
Al drie beskuldigdes pleit onskuldig.
Volgens een van die klaers, Christo Pockpas, het die drie mans hom van sy beursie met R400 beroof en sy broer, Ricardo van Wyngaardt, met 'n skerp voorwerp gesteek en van 'n onbekende bedrag geld beroof.
Windvogel, alombekend as "Ou Mina" het hom glo 'n paar dae na die voorval om verskoning gevra.
Volgens Windvogel se regsverteenwoor-diger, Wenzel Botha, sal hy egter ontken dat hy Pockpas om verskoning gevra het omdat hy nie die betrokke oggend by sy woonplek was nie, en dus nie by was toe hy beroof is nie.
Hy ontken ook Pockpas se getuienis dat dit hy was wat die huis deursoek het nadat Lindt sy voete onder hom uitgeskop het.
Pockpas het ook getuig dat Windvogel aan hom gesê het om stil te staan "omdat die manne hom gaan seermaak".
Windvogel se verweer, dat hy nie by was nie, word egter deur Wiese Hendricks, 'n staatsgetuie, weerlê.
Volgens Hendricks het hy die betrokke oggend saam met die beskuldigdes na Flip Abrahams se woonplek gestap.
Die drie beskuldigdes is volgens hom egter by die hok van Pockpas in terwyl hy buite in die straat gestaan en rook het.
Hy het gehoor hoe Pockpas om hulp roep en later uit sy woning kom en weghardloop.
Daarna het die drie beskuldigdes uitgekom en hy kon sien hoe hulle geld onder mekaar verdeel.
Hy het ontken dat hy ook van die geld gekry het.
Op 'n vraag van die landdros het hy geantwoord dat hoewel hy tik gerook het, hy nie bedwelmd was nie.
Op 'n stelling van Windvogel se regs-verteenwoordiger dat sy weergawe hemelsbreed verskil van die ander getuies, het hy geantwoord dat hy getuig en die voorval ses jaar gelede plaasgevind het.
Flip Abrahams se regsverteenwoordiger, adv. Piet van Wyk, het na die getuienis van die laaste staatsgetuie, die hof meegedeel dat Abrahams 'n 174-aansoek wil bring waarin hy die hof wil versoek om die saak teen hom van die hofrol te skrap.
Die saak dien voor streeklanddros Retha Pretorius en Hyron Goulding verskyn namens die staat.
'Ons bring jou die nuutste Calitzdorp, Klein Karoo nuus'