OUDTSHOORN NUUS - Diewe het verlede naweek bykans 55 staalpenne van die laagwaterbrug in Kerkstraat onderkant die hangbrug wat sedert verlede Donderdag onder konstruksie is, gesteel.
Hierdie konstruksie volg nadat daar etlike maande gelede, groot skade aangerig is aan dié laagwaterbrug weens swaar reën wat Oudtshoorn getref het.
Sekere strate met laagwaterbrûe soos Kerkstraat, was sedertdien gesluit vir motoriste sodat die watervlak eers kon sak voordat herstelwerk aangebring kan word.
Met die naweek se diefstal, is die herstelwerk dus verder vertraag wat ook verkeersvloei belemmer.
Volgens Hannes Visser, woordvoerder van die burge-meesterskantoor, het die kontrakteur, Ruwacon, aangebied om die brug op hulle eie koste te herstel na dié diefstal.
Visser sê dat die kontrakteur verlede Donderdag en Vrydag voorbereidingswerk gedoen het en ongeveer 60 ysterpenne in die betonfondasies van die brug vasgemaak het as ankerpunte vir die sementblad wat gelê moet word.
"Toe die kontrakteur egter Maandagoggend werkers en toerusting by die brug aflaai, het hulle gesien dat die ysterpenne uit die beton verwyder is. Van die meer as 60 ysterpenne is slegs vyf agtergelaat. Dit beteken dat die werk van verlede week weer gedoen moet word, maar die beplanning moet nou so gedoen word dat die totale staalkonstruksie en bekisting van die brug aangebring moet word en met beton bedek moet word om verdere diefstal van die staal te voorkom.
Die munisipaliteit is dankbaar vir Ruwacon se bereidwilligheid om hierdie duur projek op eie koste te doen.
Die munisipaliteit vra ook die inwoners van veral huise rondom die brug, om enige verdagte optrede by die brug onmiddellik by die polisie en die munisipaliteit aan te meld."
Sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het by navraag aangedui dat geen saak aangemeld is nie.
Die munisipaliteit het bevestig dat hulle nie 'n klag gelê het nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’