Update
OUDTSHOORN NUUS - Sproetjies, die hond van die munisipale skut wat die afgelope naweek weggeraak het, is gisteraand gevind.
Die Oudtshoorn Courant het die naweek berig dat Sproetjies moontlik uitgekom het toe kwaaddoeners by die skut probeer inbreek het.
Volgens Colleen Smith, voorsitter van Oudtshoorn Dogs in Need (ODIN), het Lizelle Mouton, een van hulle vrywilligers, die foto van Sproetjies met polisiebeamptes gedeel.
“Sersante James Bruiners en Shadley Ekstraal het haar gisteraand gebel en gesê hulle het ‘n hond wat soos Sproetjies lyk in Sesdelaan gesien. Lizelle het dadelik in haar kar geklim en gery.”
Lizelle sê sy het Sproetjies geroep en sy het dadelik na haar toe gehardloop.
“Sy was so bang en het alleen in ‘n hoekie gesit. Toe sy my stem hoor het sy dadelik na my toe gehardloop. Ek het nie eens gesukkel om haar in die kar te kry nie. Sy was baie honger en baie dors toe ek haar kry, maar sy is nou veilig terug by ons.”
ODIN bedank die polisie wil hul moeite om Sproetjies weer veilig terug te kry.
Lees 'n vorige artikel: Skut-hond vermis na inbraak
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'