OUDTSHOORN NUUS - Een van die groot besprekingspunte van Dinsdag se spesiale raadsvergadering by die Oudtshoorn-munisipaliteit was 'n mosie van die DA-raadslid James du Preez wat versoek het dat die munisipaliteit vyf talentvolle Protea-karatekas (sien bl.20) finansieel met R42 950 of andersins kan bystaan.
Hulle vertrek in Junie na Kroasië om Suid-Afrika te gaan verteenwoordig.
Volgens die direkteur van strategiese dienste, Lluwellyn Coetzee, sal die munisipaliteit slegs gedeeltelike bystand kan bied op grond van die munisipale sportbeleid.
Chris Mcpherson (DA) het op sy beurt gesê dat alle applikante eers die sportraad moet nader voordat daar 'n besluit geneem kan word.
Die speaker, Colan Sylvester, het 'n finale beslissing gemaak en bevestig dat die sportbeleid voorsiening maak vir atlete wat nasionale kleure behaal en dat die item op die agenda geplaas sal word vir volgende Dinsdag vir bespreking deur die munisipale raad.
Raad bestaan tans slegs uit 24 lede
Mlandeli Nuyka van Saamstaan-party is sy setel in die munisipale raad kwyt nadat sy lidmaatskap op 6 April vanjaar deur sy party beëindig is.
Hy is skuldig bevind in 'n interne tugverhoor weens verskeie aanklagte wat insluit vervalsing van dokumente.
Dit sluit in dat hy 'n PR-lys by die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) in 2021, net na verlede jaar se verkiesing, ingedien het sonder die medewete van die partybestuur. Hy was ten tyde van die voorval die president van die party.
Volgens die persverklaring van die party was Nuyka nooit 'n kandidaat in die verkiesing nie en is hy nie deur die party aanbeveel om Saamstaan in die raad te verteenwoordig nie. Sy posisie is intussen vakant deur die OVK verklaar.
Volgens Saamstaan sal Nuyka se posisie binnekort gevul word nadat prosesse afgehandel is. Dit is in hierdie stadium nie duidelik of Saamstaan hom weer by die ANC-beherende-koalisie gaan skaar soos wat Nuyka se voorkeur was nie. Indien nie, kan dit 'n ommeswaai in die politieke magsbasis te weeg bring.
Jansen nou ondervoorsitter van SALGA
Daar is tydens die spesiale vergadering bekendgemaak dat raadslid Suzane Jansen (PA) verkies is as ondervoorsitter van SALGA. Dit het egter tydens die bespreking aan die lig gekom dat die raad oorspronklik vir Sonia Bentley (Good) verkies het as hul kandidaat met Jansen as haar secundi (ondersteunende rol).
Jansen se naam is egter sonder Bentley se medewete en melding van haar eie naam, aan SALGA gestuur as Oudtshoorn se kandidaat.
"n Sigbare ongelukkige Bentley het na 'n koukusbreuk as gevolg van hierdie besprekingspunt aan die raad gesê dat haar naam dalk met opset nie deurgegee is nie.
"As die Here my 05:30 in die oggend wakker maak, weet ek dat my gees my probeer waarsku dat iets nie reg nie. Hoe dit ook al sy, die mens wat ek is, wil ek vra dat ons hierdie ding moet vergeet. SALGA het vir Jansen se reis na Prins Albert betaal en nie die munisipaliteit nie, so dit kan dus nie onder vrugtelose uitgawes tel nie."
Die burgemeester, Chad Louw (ANC), het hierop 'n voorstel gemaak dat Jansen voortgaan as ondervoorsitter van SALGA en dat Bentley die plaaslike verteenwoordiger is. Vlancio Donson (Icosa) het daarop aangedring dat 'n wysiging gemaak moet word sodat daar 'n ondersoek gelas kan word om te bepaal wie die skuldiges is wat die raad se besluit verontagsaam het om Jansen as Oudtshoorn se kandidaat in Bentley se plek vir SALGA voor te hou.
Kango-grotte restaurant ( Kraaibosch Foods)
Die Kango-grotte is tans sonder 'n operasionele restaurant nadat Kraaibosch Foods besluit het om sy deure toe te maak weens lae besoekersgetalle.
Hul huurgeld het maandeliks R15 000 beloop en die munisipaliteit het 'n versoek van Kraaibosch Foods ontvang om hul totale uitstaande bedrag van R455 862,37 af te skryf.
Volgens Allison Moos (bestuurder van Kango-grotte) sal dit voordelig wees as daar 'n voltydse operasionele restaurant is omdat daar tans geen beperkings op besoekers is nie.
Hierop het Donson voorgestel dat daar gekyk moet word hoe Kraaibosch Foods die uitstaande skuld oor 'n langtermynopsie kan afbetaal.
Donson het sy vrees uitgespreek dat Kraaibosch Foods se opvolger dalk met dieselfde kontantvloei probleem sal sit. Die raad het eenparig besluit dat die aangeleentheid ondersoek moet word en binne sewe dae ter tafel gelê moet word.
Gebruik van ou Fezekile skool
Coetzee stel voor dat die perseel ontwikkel moet word. Volgens hom is die waarde van die perseel bykans R950 000 en het hy voorgestel dat handeldryfspasies vir die gemeenskap gebou moet word na publieke deelname.
Puttoilette
Sowat 100 puttoilette in informele neder-settings in die Oudtshoorn-area is buite werking en hou tans 'n gesondheidsrisiko vir kinders in.
Hierop word die uitvoerende burgemeesterskomitee se voorstelle deur die raad eenparig aanvaar dat ongebruikte en gebreekte puttoilette verwyder en deur chemiese toilette vervang moet word.
Munisipale opgradering
Die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, Anton Bredell, het 'n versoek van die Oudtshoorn-munisipaliteit afgekeur om weens stygende populasie getalle en omvang van huidige begrotingsratio van vlak drie, na vlak vier -munisipaliteit opgradeer te word.
Hierdie aanpassing sou onder andere verhoging in raadslede se salarisse te weeg gebring het.
Bredell wys daarop dat dr. Nkosazana Zuma in 'n staatskoerant-kennisgewing gedateer 2 November, vasgestel het dat daar geen styging in raadslede se salarisse, toelaes en voordele mag wees nie.
Raadslede het dit tydens dié spesiale vergadering duidelik gemaak dat die versoek geensins was om meer te verdien nie, maar slegs om beter dienslewering te skep asook die vooruitsigte van opgradering van hulpbronne waarby die gemeenskap direk sou baat vind.
Asla-kontrak
Die beëindiging van die ASLA-kontrak is in komitee bespreek.
'n Sigbare ongelukkige Bentley het na 'n koukusbreuk as gevolg van hierdie besprekingspunt aan die raad gesê dat haar naam dalk met opset nie deurgegee is nie. Foto's: Wyndham Ewerts
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'