OUDTSHOORN NUUSFLITS - Die Jobs for Carbon (J4C) projek van die Gourits Groepsbiosfeerreservaat (GCBR) het 'n dramatiese verandering in die lewens van mense in Van Wyksdorp tussen Ladismith en Riversdal, teweeggebring.
Die J4C-projek het in Maart 2015 met die finansiële ondersteuning van die Wes-Kaapse departement van omgewingsake en die Europese Unie begin met die hervestiging van spekbome op oorbeweide grond in die omgewing.
'n Span van 60 gemeenskapslede wat voorheen meestal werkloos was, het tot Oktober 2016 altesaam 170 000 spekboomsteggies op 333 ha aangeplant.
Die tweede fase van J4C-projek, wat deur die Nederlandse DOB-familietrust gefinansier word, het in Maart vanjaar begin. Altesaam 24 spanlede, onder leiding van toesighouers Katrien Opperman en Melvin Oosthuizen, is besig om met pik en graaf gate van 20 cm diep teen die klipperige hange van rante op plase buite die dorp te maak.
Sodra dit reën, sal spekboomsteggies van 50 cm lank, wat van oorblywende spekbome op dieselfde grond geoes word, geplant word.
"Die projek is so suksesvol dat al meer grond-eienaars ons nader om spekboom ook op hulle grond te hervestig," sê André Britz van GCBR, die aktiwiteitsbestuurder wat in beheer is van die projek se logistieke reëlings.
Sover het sewe grondeienaars reeds grond vir 'n periode van 10 jaar vir die projek beskikbaar gestel.
"Hulle neem deel omdat hulle oorbeweide veld kosteloos deur die aanplant van spekboom rehabiliteer en herstel word. Die veldrehabilitasie lê erosie aan bande en skep 'n habitat vir die vestiging van ander plante wat met spekboom vereenselwig word."
Die projek het baie inwoners se lewens positief verander. "Ek het baie geleer deur die kursusse in gesondheid en veiligheid, noodhulp, persoonlike finansiële bestuur en arbeidswetgewing," vertel Opperman. J4C verskaf ook 'n inkomste, wat nie net die spanlede nie, maar ook hul afhanklikes baat.
Die J4C-projek het gelei tot nuwe projekte, wat 'n spekboomkwekery en 'n groentetuin insluit.
Spekboomtakkies word in bio-afbreekbare potjies geplant en aan die publiek verkoop. Groente uit die groentetuin sal aan die gemeenskap en voedingsprojekte verkoop word.
Die kinders het nie agterweë gebly nie. 'n Green Club, waaraan gr. 6 en 7-leerders van die Van Wyksdorp Laerskool behoort, is 'n inisiatief van die Landmark Foundation (LMF). Die klub is drie jaar gelede gestig en lede noem hulself die Green Butterflies. Monica Vaccaro van LMF bied opvoedkundige programme aan, terwyl Britz die logistiek hanteer.
Die klublede is verantwoordelik vir sekere take by die skool, soos media, biblioteek, aansteekborde, badkamers, afvalbestuur en netheid van die skoolterrein, en die botaniese tuin by die skool. Hulle neem deel aan uitstappies en kampe waartydens hulle meer oor die omge-wing leer.
Soortgelyke Green Clubs is vanjaar ook by Herbertsdale- en Ruiterbos gestig. Vanwyksdorp se Green Butterflies versorg 200 spekboomsteggies wat hulle vir die nuwe klubs se lede kweek.
Kontak André Britz by 072 062 8444 of besoek die webblad by www.gouritz.com vir meer inligting oor die projekte
Die J4C span besig om gate in die klipperige grond te grou vir nuwe spekbome.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'