OUDTSHOORN NUUS - Meiringspoort, sowat 35km vanaf Oudtshoorn op pad na Beaufort-Wes is 'n natuurlike poort wat die Klein-Karoo met die Groot-Karoo verbind.
Die N12 volg die kronkelende Grootrivier, 'n sytak van die Olifantsrivier, wat 'n mens 25 keer oorsteek.
Hou piekniek in die poort
Elke drif het 'n naam wat verwys na iemand of iets wat daar gebeur het. Daar is verskeie piekniekplekke met netjiese toiletgeriewe waar besoekers kan ontspan en lafenis soek. Die gewildste rusplek is by Watervaldrif ongeveer in die middel van die poort. Na 'n steil entjie se stap is 'n pragtige waterval wat ongeveer 60m na benede in 'n diep poel stort. Die poel is 'n gewilde swemplek. Hou gerus by die waterval stil en gaan lees die volledige lys van die driwwe se name en hoekom hulle so genoem is.
Asemrowende natuurskoon
Die poort se loodregte wande is 'n uitstekende voorbeeld van die Kaapse vouberge, wat verwys na die lae sandsteen en klei wat deur die eeue deur aardkragte opgedruk is om die manjifieke formasies te vorm.
Plantegroei sluit Karooveld, renosterveld, bergfynbos en spekboomveld in. Let op na wilde malvas, pelargonium zonale, wat in 1689 vir die eerste keer hier gevind is en waaruit alle bestaande malvas deur die eeue ontwikkel is.
Die poort is ook die tuiste van wilde diere, soos klipspringer en bobbejane, wat jy soms sal teëkom, asook skugter luiperds, wat jy nie sommer sal sien nie tensy dié manjifieke kat reg voor jou oor die pad loop op soek na 'n vet dassie vir 'n maaltyd.
Waarskuwing
Elke keer wat die rivier met mening afkom, word die poort vir verkeer gesluit terwyl tonne modder en plantegroei, wat deur die krag van die water meegesleur is, verwyder word om die pad weer begaanbaar te maak.
Moenie die krag van die vloedwater onderskat en die poort onder sulke omstandighede aandurf nie.
Sirkelroete
'n Ideale daguitstappie is 'n rit deur Meiringspoort en Klaarstroom tot in Prins Albert vir middagete. Keer terug Oudtshoorn toe via die pragtige Swartbergpas. Die sirkelroete is ongeveer 190 km.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'