Update
KAROO NUUS - Die burgemeester van Prins Albert-munisipaliteit, Linda Jaquet, het gisteraand, 5 Februarie, in 'n verklaring aan inwoners gesê dat die "elektrisiteitstoevoer na ons munisipale area eers oor ten minste 10 dae herstel sal word."
Volgens die verklaring was sy in gesprek met die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, Anton Bredell, en moet hulle beplan vir ten minste 10 dae sonder krag.
"Dié onderbreking is die gevolg van sewe Eskom-transmissietorings wat Saterdagaand ineengestort het. Hierdie torings is tussen Touwsrivier en Laingsburg geleë, met verskeie omliggende dorpe wat geraak word. Dit sal ons gemeenskappe op baie vlakke beïnvloed, insluitend skole, die hospitaal, klinieke, besighede, toerisme, landbou, huishoudings en persoonlike gesondheid en veiligheid. Ons werk nou saam met die provinsiale regering wat hulp aangebied het."
Sy het gesê dat die Prins Albert-munisipaliteit se grootste bekommernis sedert Saterdagaand was om te verseker dat alle inwoners toegang tot veilige drinkwater het.
"In hierdie verband het die munisipaliteit kragopwekkers na vyf boorgate verskuif om 'n onderbreking in toevoer na Prins Albert te voorkom. Ons het ook 'n kragopwekker vanaf Prins Albert verskuif om die boorgat in Leeu-Gamka te laat loop, terwyl drinkwater aan die inwoners van Prins Albertweg en Welgemoed verskaf is."
Sy het verder gesê dat hulle 'n kragopwekker van 'n boorgat na die hoogdrukreservoir op die Robert Gordon-koppie in Prins Albert geskuif het. Die munisipaliteit het ook, met die hulp van die Kweekvallei Watergebruikersvereniging, asook vrygewige inwoners in Prins Albert, ekstra leiwater beurte.
"Albei hierdie aksies sal die watervlak van die hoogdrukdam verhoog en die waterdruk in die netwerk verhoog. Ons het ook 'n ander kragopwekker gehuur met genoeg kapasiteit om 24 uur per dag te werk. Dit sal môre afgelewer word. Die Provinsiale Regering het ons vanmiddag ingelig dat hulle ons van 'n bykomende kragopwekker gaan voorsien om verdere kapasiteit by ons watervoorraad in Prins Albert te voeg."
Volgens Jaquet sal hulle met belanghebbendes oor hul behoeftes vergader en vasstel hoe hulle kan saamwerk om die veiligheid van die gemeenskappe te verseker.
Lees vorige berig hier:
Kragonderbreking in Karoo en Tuinroete
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’