OUDTSHOORN NUUS - Woedende inwoners van Smartie Town het Dinsdagoggend buitebande aan die brand gesteek omdat hulle ontevrede is oor werksgeleenthede in hul woongebied wat volgens hulle, aan ander inwoners buite hul area toegeken word.
Die herrie gaan oor die konstruksie van sypaadjies in Smartie Town wat tans aan die gang is.
Die raadslid van wyk 5 waarin Smartie Town geleë is, Abraham Tiemie, het die inwoners toegespreek en aan die inwoners verduidelik hoe die prosesse werk.
Volgens Tiemie was daar 'n probleem met die opneming van inwoners op die munisipaliteit se databasis.
Nog 'n groot kwelpunt wat opgemerk is deur Tiemie is die afwesigheid van 'n gemeenskapskakelbeampte (CLO) wat volgens hom deur die kontrakteur aangestel behoort te word.
Die gemeenskapskakelbeampte se rol is om 'n brug tussen die kontrakteur en die gemeenskap of gemeenskaps-verteenwoordigers te wees en om sodoende 'n gees van wedersydse vertroue tydens die uitvoering van 'n projek te bevorder en te handhaaf.
Daar was 'n groot polisieteenwoordigheid tesame met die brandweer wat die brande bande geblus het. Die ontevrede inwoners, tesame met raadslid Tiemie, het onder-neem om dieselfde dag antwoorde van die betrokke kontrakteurs by die munisipaliteit te kry.
Oudtshoorn-munisipaliteit reageer
Die waarnemende munisipale bestuurder, Walter Hendricks, het by navraag sy misnoeë uitgespreek teenoor die optrede van die raadslid wat betrokke was by die buitebande-brandstigting.
"Die gedragskode vir raadslede is duidelik: 'n Raadslid moet te alle tye in die beste belang van die munisipaliteit optree wat nie gedoen is nie. Dit beteken jy kan nie die publiek opsweep teen die munisipaliteit nie. Die munisipaliteit het nie die mense aangestel nie, maar wel die kontrakteur. Al wat ons as munisipaliteit kan doen is om 'n vergadering met die kontrakteur te hou. Genoeg is Genoeg. Geen persoon wat die munisipale bestuurder wil sien oor 'n aangeleentheid wat niks met die raad te doen het, sal ook gesien word nie," het Hendricks bygevoeg.
Verder sê Hendricks dat Dinsdag se protesaksie onwettig was omdat die Grondwet voorsiening maak om 'n goedgekeurde protesaksie te hou waarna 'n petisie oorhandig kan word.
"Die nasionale regering se infrastruktuur is beskadig waarvan die belastingbetaler ten duurste moet betaal - môre oormôre word daar gekla dat die munisipaliteit nie Smartie Town se paaie herstel nie. Wie het dit in die eerste plek beskadig moet dan gevra word."
Hendricks het ook bevestig dat hy beoog om 'n klagte teen die polisie in te dien omdat hulle volgens hom toegestaan en gekyk het hoe daar onwettig opgetree word.
"Hoekom is die oortreders nie toegesluit tydens die brandstigting nie? Nie net was dit onveilig nie, maar die rook wat deur die inwoners ingeasem word is ook gevaarlik," het hy gesê.
Vorige artikel: Smartie Town-inwoners stook vuur oor werk
Raadslid Abraham Tiemie spreek sy wyk toe.
Die brandweer het die brande buitebande geblus. Foto's: Wyndham Ewerts
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’