Gallery
OUDTSHOORN NUUS - Ontstoke inwoners van Smartie Town het vanoggend by die ingang van Johan Gelderbloem-straat betoog teen wat hulle bestempel het as swak dienslewering in hul gemeenskap.
Smartie Town is 'n woonbuurt wat al sedert 2001 in Oudtshoorn bestaan. Hendrik Linters (62), inwoner van Smartie Town, vertel dat hy hom sedert 2003 in dié buurt kom vestig het.
"Dit is 'n absolute skande dat vandat ek hier woon daar nog net een straat deur die Oudtshoorn-munisipaliteit geteer is. Wanneer dit reën stroom die water onkeerbaar binne ons erwe in wat groot ongemak vir ons gesinne veroorsaak." Ons pleidooie om die infrastruktuur in hierdie vergete buurt te kom verbeter het tot dusver egter op dowe ore geval."
Volgens Hendrik verdien die munisipaliteit-amptenare massiewe salarisse terwyl sy mense daaronder ly. "Die oorgrote meerderheid van ons jeug is werkloos en met al die opknappingswerke wat in Smartie Town beskikbaar is, kan dit ongetwyfeld vir hulle broodnodige werk skep."
Die organiseerder van die betoging, Joey Canary, het op haar beurt gesê dat dit voorkom of die Municipal Infrastucture Grant (MIG) net in sekere buurte ge-allokeer word." Dit is baie frustrerend om te weet dat daar wel fondse beskikbaar is om aan woonbuurte se infrastruktuur-behoeftes te voorsien.
Die inwoners van Smartie Town is moeg om aan die agterste speen te suig terwyl die buurt waarin hulle daagliks leef kripeer, het sy gesê.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'