OUDTSHOORN NUUS - Dit blyk dat slange, en veral Kaapse kobras, nie skugter is om dorp toe te kom nie. Mornay Thysse, brandweerman en Oudtshoorn se bekende slangvanger het die afgelope ruk slange verwyder op plekke waar 'n mens hulle gewoonlik nie sou verwag nie. Hy het onder andere 'n kobra in Millenniumpark verwyder en verlede week een in die hartjie van die dorp langs die rivier naby die Queen's Mall.
'n Boervrou van Rooiheuwel het hierdie week ook vertel dat sy een oggend in haar kombuis verwelkom is deur 'n Kaapse kobra wat heerlik op haar stoof opgekrul gelê het en sy kop bak gemaak het toe hy met hanekraai gesteur is.
Volgens Thysse is die meeste slange wat hy by huise verwyder Kaapse kobras, maar pofadders en skadelose bruin huisslange kom ook voor. Hy vertel van voorvalle waar honde dood is nadat hulle deur pofadders en kobras gepik is. Hy sê slange se natuurlike kos is muise en paddas. Omdat hierdie diertjies toenemend by huise voorkom om water te soek volg die slange hulle.
Wat gemaak as 'n slang kom kuier?
- Alhoewel die meeste slangspesies onskadelik is, is dit veiliger om enige slang as potensieel giftig te beskou
- Slange se instink is om hulself te beskerm, moet dus nie probeer om die slang te vang nie
- Bly kalm, kry kinders en troeteldiere weg van die slang en behou 'n veilige afstand van ten minste drie meter
- Bel die beheerkamer by 044 203 3147 of 044 203 7800
- Indien moontlik, hou 'n oog op die slang om te kyk waarheen hy gaan sodat die slangvanger weet waar om te soek
- Slange sal gewoonlik bedreig voel en wegbeweeg na veiligheid wat dikwels donker hoekies is
- Skakel snags ligte aan as jy in die huis of buitekant rondbeweeg
- Wees bewus van geluide aangesien sommige slange dikwels as waarskuwing sis
- Onthou altyd dat 'n klein slangetjie se gif net so dodelik is soos 'n grote s'n
Wat gemaak as 'n slang iemand gepik het?
- Indien moontlik, neem 'n foto van die slang vir identifikasiedoeleindes as jy nie seker is watter soort slang dit is nie
- Ontbied onmiddellik mediese hulp - veral in die geval van 'n Kaapse kobra. Hierdie slang se gif versprei baie vinnig en kan tot asemhalingsprobleme lei
- Beweeg so min as moontlik en probeer kalm bly
- Moet onder geen omstandighede boererate volg soos byvoorbeeld om die gif te probeer uitsuig, ys op die wond te plaas of die wond te brand nie
As jy in 'n gebied woon waar slange gereeld voorkom is dit 'n goeie idee om 'n slang-bewusmakingskursus by te woon wat basiese noodhulp vir slangbyte insluit.
Mites oor slange
Volgens slangkenners is daar verskeie mites oor slange wat die nek ingeslaan moet word.
- Dit is nie so dat sommige slangspesies mense sal aanval of selfs jaag nie.
- Dit is nie so dat seker plante soos malvas en knoffel slange weghou nie.
- Nog minder is dit waar dat plaveisel, gruis, eende, ou motorolie en sekere ontsmettingsmiddels slange afweer.
- Slange "loop" ook nie in pare waar een maat 'n ander een kom soek as een gevang word nie.
- Slange wat in die veld, waar genoeg kos is, vrygelaat word keer nie "terug" na die plek waar hulle gevang is nie
Dit is ook belangrik om daarop te let dat sommige slange, soos pofadders, nie soos Kaapse kobras orent kom en dadelik sigbaar is nie. Hulle is geneig om opgekrul te lê en hulle natuurlike kamoeflering maak hulle dikwels moeilik sigbaar in die veld en tussen plantegroei.
Wees op die uitkyk vir slange as jy buite is en moenie met kaal hande tussen plante in die tuin grou nie, gebruik eerder tuingereedskap.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'