Update
LAINGSBURG NUUS - Tydens 'n herbekendstellingsgeleentheid wat onlangs by die Laingsburg-polisiestasie plaasgevind het, het Wes-Kaapse polisie die stryd teen geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord met die herbekendstelling van die slagofferkamer verskerp.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sal die slagofferkamer 'n diens aan slagoffers van misdaad lewer deur hulle te bemagtig met emosionele en praktiese ondersteuning, inligting sal gedeel word en slagoffers sal na professionele ondersteuningsdienste verwys word.
"Die herbekendstelling van die kamer is in vennootskap met die organisasie, Business Against Crime (BAC) moontlik gemaak nadat die kamer ten volle opgeknap is," vertel Spies.
Shaun Koen, BAC-verteenwoordiger, het die belangrikheid van die vennootskap met die polisie beklemtoon om te verseker dat al die polisiestasies toegerus is met alles wat 'n slagoffer van misdaad nodig het.
Die Wes-Kaapse provinsiale hoof verantwoordelik vir sigbare polisiëring, brig. Zukiswa Matumbu, het 'n beroep op polisielede gedoen om te verseker dat die ministeriële sespuntplan ten volle geïmplementeer word en dat slagoffers van misdaad alle voordele ontvang wat met die plan verband hou.
Dit sluit die volgende in:
- Alle slagoffers moet met respek en waardigheid behandel word en op 'n sensitiewe wyse deur 'n opgeleide polisiebeampte ondervra word.
- Slagoffers moet bygestaan word in 'n slagoffervriendelike of alternatiewe kamer, waar 'n verklaring privaat geneem sal word om slagofferondersteuningsdienste te lewer.
- Slagoffers sal deur die gesondheidswerker verwys of geneem word vir 'n mediese ondersoek om bewyse te bekom en 'n mediese verslag te voltooi - insluitend om die gesondheid van die slagoffer te verseker.
- Die ondersoek moet gedoen word deur die ondersoekeenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe of 'n speurder met relevante opleiding.
- Slagoffers van seksuele misdrywe, vrouemoord en kindermoord en hul gesinne moet verwys word na slagofferondersteuningsdienste wat binne die gebied beskikbaar is vir regs-, mediese-, sosiale- en sielkundige hulp.
- Slagoffers moet proaktief en deurlopend terugvoering ontvang oor die vordering van hul saak.
Vorige artikel: Slagofferkamer word opgeknap
'Ons bring jou die nuutste Laingsburg, Karoo nuus'