OUDTSHOORN NUUS - Herstel- en opgraderingswerk het op 22 November by die gedeelte van Kerkstraat wat na Mediclinic Klein Karoo lei, begin.
Hannes Stegmann, bestuurder van Mediclinic Klein Karoo, vertel dat hulle elke paar maande 'n streekbesoek van Mediclinic se korporatiewe kantoor ontvang.
Met elke besoek is die swak kwaliteit van Kerkstraat se toegangspad tot by die hospitaal, bespreek.
"Ons is trots op ons uitstekende diens, uitbreidings en fasiliteite wat so goed onderhou word, maar ontvang klagtes van pasiënte met pynlike frakture wanneer hul deur al die slaggate vervoer word op pad na die hospitaal," vertel Stegmann.
Stegmann, het op 1 Julie 'n skrywe aan Oudtshoorn-burgemeester, Chris Macpherson, gerig om die toegangspad na Mediclinic Klein Karoo te herstel. Macpherson het op 22 Augustus die area besoek en die proses om so 'n opgradering moontlik te bespreek.
Herstel- en opgraderingswerk het op 22 November aan die gedeelte van Kerkstraat begin. Stegmann vertel dat baie mense hulself in Oudtshoorn kom vestig weens toegang tot die privaat hospitaal. "Ons is dankbaar dat ons toegangspad nou ook in net so goeie kondisie is," sê hy.
Munisipale herstelprogram
Die Munisipale teeraanleg in Bridgton, Dassieweg, is na agt jaar weer vol in bedryf. Die eerste vrag teer is gebruik om twee gedeeltes van Jan van Riebeeckweg te herstel. Sedertdien is herstelwerk in verskeie strate reeds gedoen. 'n Kontrakteur is ook onlangs aangestel om herstel- en opgraderingswerk aan die gedeelte van Kerkstraat wat lei na die Mediclinic Klein-Karoo aan te bring. Burgemeester, Chris Macpherson, het by monde van sy mediabeampte, Hannes Visser, gesê dat die herstel van die spesifieke straat deel van die munisipaliteit se herstelprogram is om strate in Oudtshoorn, Dysselsdorp en De Rust te herstel.
"Daar is 'n volledige herstelprogram opgestel en in volgende week se raadsvergadering sal nog aankondigings ten opsigte van die herstel van strate gemaak word," sê die burgemeester in die verklaring.
Die herstel van paaie in die Oudtshoorn-omgewing het momentum gekry nadat die munisipaliteit se eie teeraanleg twee weke gelede weer operasioneel is. “Een van die volgende prioriteite is Rudlaan langs Tuishuis wat reeds voorberei is,” lui die verklaring.
Oudtshoorn Courant sal lesers ingelig hou rakende die herstelprogram wat in volgende week se raadsvergadering bespreek gaan word.
Chris Macpherson, Oudtshoorn-burgemeester by die aanskakeling van die teeraanleg.
Chris Macpherson, Oudtshoorn-burgemeester by die aanskakeling van die teeraanleg. Foto's: Munisipaliteit
Die pad na Mediclinic Klein Karoo word herstel. Foto: Hannes Stegmann
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'