OUDTSHOORN NUUS - Alhoewel sy haar lewe lank lief was vir skryf het Maretha van der Westhuyzen eers onlangs haar skryftalent begin ontgin.
"Ek skryf al my lewe lank, maar het nooit iets daarmee gedoen nie tot in 2010, toe ek die NG Herold se eeufeesbundel, 'n Eeu van genade geskryf het. Sedertdien skryf ek ook die gemeente se kwartaallikse blaadjie."
Sy het in 2011/12 by die Oudtshoorn-skryfkring betrokke geraak. "Dis eers toe ek by Hannes Visser se skryfkring aangesluit het dat ek werklik gevoel het ek kan iets uitgerig kry.
"Ek het geweldig baie daar geleer, en in die tyd is van my skryfwerk opgeneem in een van Myra Lochner se publikasies 'n paar jaar gelede."
In 2017 het sy met Visser se aansporing ingeskryf vir die Bloemfontein-skrywersvereniging se kortverhaalkompetisie. "Ek het sowaar die kompetisie met my storie Vrou van die Woestyn gewen."
By die slypskool wat verlede jaar deur die Bloemfon-teinse-skrywersver-eniging gereël is en deur prof. Ettienne van Heerden aangebied is, het sy geleer dat 'n mens jou genre moet vasstel en sy glo haar genre is tans die kortverhaal.
"Toe skryf ek my kortverhaal, 'n Ander Leeftyd in vir die Universiteit van Stellenbosch se Woordfees-kompetisie, en sowaar, my storie word gekeur. Jy kon my omtik met 'n veer."
Sy werk tans aan haar eie kortverhaalbundel met die ervaring van vroue as tema.
"Omdat ek by my kinders en die gemeenskap betrokke is, gaan dit nie so vinnig as wat ek sou wou nie."
Volgens haar het sy 'n positiewe uitkyk op die lewe en put baie vreugde uit die lewe. "Dit is vir my belangrik om hierdie dinge oor te dra in my stories. Dit is vir my belangrik dat vroue hulself bemagtig. Dit is vir my so lekker om te skryf - dis skeppend, dis bevrydend, dit bring soveel bevrediging. Ek love dit."
Behalwe vir skryf doen sy ook naaldwerk, rangskik blomme, speel klavier en ook die orreltjie in die Klipdrift-kerkie.
Sy woon die afgelope 48 jaar op die plaas Klipdrift by Zebra tussen Waboomskraal en Oudtshoorn. Haar man, Johan, het sy twee jaar gelede weens kanker verloor, maar een van haar tweelingseuns, boer verder op die plaas.
Die ouma van vyf is egter nie aan die plaas vasgekluister nie.
"Ek reis baie graag. Ek was verlede jaar in Oos-Europa en vertrek oor 'n maand Turkye toe. Oor die afgelope Desembervakansie het ek met my motor Botswana toe gery en daar getoer."
ARTIKEL: TISHA STEYN, OUDTSHOORN COURANT-KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'