KANNALAND NUUS - Die Wes-Kaapse minister vir plaaslike regering, Anton Bredell, het verlede Vrydag die skorsing van drie Icosa-raadslede in die Kannaland-munisipaliteit, Jeffrey Donson (partyleier), Werner Meshoa en Hyrin Ruiters, ongeldig verklaar.
Bredell se uitspraak volg nadat speaker Rodge Albertus (KIP) op 29 Julie die driestuks geskors het omdat hulle glo hulself skuldig gemaak het aan verkwistende besteding van openbare fondse.
In 'n verklaring van Bredell in besit van Oudtshoorn Courant, kan hy geen regverdige rede in die huidige feite vind wat óf die skorsing óf die verwydering van die betrokke raadslede kan ondersteun nie.
In die lig hiervan weier hy gevolglik om dit te doen.
Icosa het die bevinding van Bredell verwelkom en gesê dat die uitspraak die speaker (Albertus) se prosedurele en regsfoute duidelik onderstreep.
Dit bewys ook volgens Icosa onteenseglik dat Albertus en die waarnemende munisipale bestuurder, Ian Avontuur, onbevoeg en ongeskik is om in hul ampte te dien.
"Icosa is dankbaar dat die oppergesag van die gereg nog werk in ons land, sowel as in ons provinsie. Alhoewel die uitspraak verblydend is, sal ons in pleks van feesvier, die uitspraak as 'n mandaat beskou om 'n goeie regering in Kannaland te vestig."
Navrae is aan beide Avontuur en Albertus gestuur, maar teen druktyd is geen antwoord ontvang nie.
Vorige artikel:
'Ons bring jou die nuutste Kannaland, Klein Karoo nuus'