Update
OUDTSHOORN NUUS - 'n Plaaslike boer, Hannes Terblanche van Stolsvlakte het tydens 'n Oudtshoorn-beleggersforumvergade-ring 'n inisiatief voorgelê om die héle N12-roete tussen Oudtshoorn en De Rust rommelvry te maak.
Die idee het byval gevind en Operasie Skoonmaak is van stapel gestuur.
Terblanche het 20 van sy werknemers ingespan om te help met die projek en vir die duur van Operasie Skoonmaak betaal hy die werknemers vir hul dienste.
Hy betaal hulle ook nog per sak wat hulle met rommel vul.
Die projek het verlede Maandag, 27 November begin, maar het hierdie week 'n groot hupstoot gekry toe die Oudtshoorn-munisipaliteit nog tien werkers, swartsakke en vervoer beskikbaar gestel het.
Jaco Vorster, mede-eienaar van Wes-Handelshuis en Camp Roadhouse en -Bakery het ook tot die mannekrag bygedra en vyf personeellede ingespan, wat hy uit sy eie sak betaal.
Colan Sylvester (uitvoerende burgemeester), Noluthando Mwati (uitvoerende onderburgemeester) en ander raadslede het Woensdagoggend self ingespring en vullis help opruim.
Woensdag se doelwit was om die hele pad van die gholfbaan tot by Johnson's Bricks skoon te maak.
'n Groot gedeelte van Meiringspoort se ingang, rigting Oudtshoorn, is reeds deur Terblanche se werknemers opgeruim.
Sylvester het Woensdag sy dank teenoor Terblanche en ander betrokkenes betuig.
"Dis vakansietyd en ons wil hê die toeriste moet Oudtshoorn se natuurskoon rommelvry geniet," het hy gesê. Volgens hom gaan die projek na elke munisipale wyk uitgebrei word, "om die hele dorp rommelvry te maak."
Lees 'n vorige artikel: Boer se skoonmaakplan kry aftrek
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Tuinroete nuus'