OUDTSHOORN NUUS - Stephen Malan, skoolhoof van Volmoed Primêr, tree die jaar, na 38 jaar in die onderwys en 20 jaar as hoof van dié skool af.
Malan sê na hy sy studies aan die Universiteit van Pretoria voltooi het was dit sy droom om onderwys in Volmoed, waar hy gebore is en self skoolgegaan het, te gaan gee.
"Ek was van Sub A tot standerd ses in Volmoed Primêr en het aan Hoërskool Môrester gematrikuleer. In 1991 het my droom waar geword en begin ek as onderwyser by Volmoed Primêr. Dit was 'n eer en 'n voorreg om aan my gemeenskap te kon teruggee."
Malan sê onderrig is daarop gemik nie net om van 'n kind 'n beter mens te maak nie, maar 'n ander mens.
"In die Bybel is 'n vergelyking van yster wat mekaar slyp en dit is presies wat onderwysers doen. Ons is reeds afgewerkte slypysters wat gebruik word om ons kinders ook te slyp. Dit is verblydend om te weet wanneer daardie ystertjies die skool verlaat is die stuk wat geslyp word nou tot sy reg gebring. Ek was bevoorreg om deel te kon vorm van honderde ystertjies wat by ons geslyp is," het hy gesê. Malan sê hy wil sy aftrede gebruik om by projekte in te skakel waar hy sy ervaring met die gemeenskap kan deel.
"Ek wil veral by die jeug en bejaardes en ook by die Ekostene-projek betrokke raak, maar vir eers wil ek tyd saam met my familie en kleinkinders deurbring en my staatmaker 1986 Mazda 323 tot sy oorspronklike vorm restoureer."
Tertia Damon, die departementshoof, sal vanaf Januarie 2020 as skoolhoof by Volmoed Primêr waarneem.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'