PRINS ALBERT NUUS - As dit van die personeel en leerders van die privaatskool, Christen Akademie, afhang, sal Prins Albert binnekort nie meer één papier, blikkie, plastiek- of glasbottel, in die strate of teen drade sien nie.
Dié skool het verlede week 'n herwinningsprojek begin. Dit word as 'n kompetisie aangebied waarin die verskillende klasgroepe kyk wie weekliks die meeste herwinbare goedere kan insamel.
Bianca Luttig, hoof van die privaat skool, Christen Akademie, en die onderwysers het die kompetisie geïinisieer.
Die herwonne materiaal word Vrydae geweeg en die wenklas word beloon, onder meer met 'n fliek en springmielies in die plaaslike teater, The Showroom, of met benodigdhede wat die publiek vir die wengroep as prys kan skenk.
Luttig, Jakoba Visagie en Emmie Willemse, help hul leerders ewe fluks insamel. "So bly die skoolterrein en die res van die dorp skoon, want ons is van plan om die projek na die hele dorp uit te brei," het Luttig gesê. Pouses word nou nie net meer vir speel gebruik nie, maar om elke stukkie afval op die skoolterrein op te tel.
Alles wat ingesamel word, sal met 'n geleentheid na 'n herwinningsplek op Prins Albert of Oudtshoorn geneem word. Dié maatskappye betaal die skool dan volgens die gewig van die goedere.
Volgens Visagie het die onderwysers begin vanjaar kop bymekaargesit oor geldinsameling.
"Die herwinningsprojek is maar een van ons idees - terselfdertyd beteken dit vir die hele dorp iets. Ons vra inwoners dus om hulle afvalmateriaal te skei, en ons sal dit by hulle huise gaan oplaai of inwoners kan dit by ons kom aflaai."
Indien iemand die skool met die herwinningsprojek wil help, skakel 023 5411 750.
'n Groep van Chrsiten Akademie se leerders wat fluks herwin. Van links is: Van links is Jané Marais, Theonisia Deelman, Minke Luttig, Armand Freysen, Chrystal Freysen en Zingce Mhambi. Foto: Marlene Malan
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Klein Karoo nuus'