Gallery
KLEIN KAROO NUUS - Die nuwe skooljaar het gister, 17 Januarie, amptelik vir duisende kinders landwyd begin. Ongeveer 24 078 graadeens is vanjaar in die provinsie ingeskryf.
In Oudtshoorn het die eerste dag vir meeste graadeens seepglad verloop en was daar slegs hier en daar 'n traantjie wat gerol het.
Laerskole in Oudtshoorn en Ladismith
By Laerskool Laurus was daar vanjaar 75 nuwe graadeens wat die skool jaar met groot opgewondenheid aangepak het. Volgens inligting wat Oudtshoorn Courant ontvang het is daar steeds heelwat leerlinge op die waglys wat nog geplaas moet word. Die skool kon ook met trots aankondig dat hulle weens die hoeveelheid nuwe leerlinge wat ingeskryf het 'n nuwe onderwyser moes aanstel.
By Laerskool Towerkop in Ladismith het 1 100 leerders vir die 2024-skooljaar ingeskryf waarvan 148 graadeens is. Lede van die Ladismith-polisie het die saalbyeenkoms gelei.
Shalom Akademie, ook in Ladismith, spog vanjaar met 22 graadeens en 140 leerders.
Colridge Primêr in Bridgton het vanjaar vier graad 1-klasse wat stampvol is. Met Oudtshoorn Courant se besoek kon die presiese getalle nuwe graadeens nog nie vasgestel word nie, en ook nie hoeveel kinders moontlik op die waglys is nie. Hulle skooljaar het met 'n kerkdiens begin.
Nog 'n Bridgton skool, Sacred Heart Primêr het Woensdag 185 leerders in vyf klasse opgedeel, verwelkom, met een tweeling. Daar is geen kinders op hul waglys nie.
Die grootste laerskool in Oudtshoorn, Saturnus Primêr met 'n totaal van 1 520 leerders, het vanjaar 237 graadeens wat in ses klasse opgedeel is. Uit hierdie honderde kleintjies is daar volgens die skool twee stelle tweelinge. Tans is daar 10 kinders op hierdie skool se waglys.
Laerskool Van Reede brei elke jaar uit en het vanjaar 125 graadeens met nog 'n paar op die waglys.
By Laerskool Wesbank het daar vanjaar ongeveer 60 splinternuwe graadeens begin en volgens die hoof, Waldo Cloete, kom van die leerders van so ver as Loxton en Paarl.
By Bongolethu Primêr was daar ongeveer 106 leerders wat met hulle eerste skooldag begin het. Op hulle waglys is ongeveer 20 leerders.
Laat inskrywings - WKOD komentaar
Volgens Bronagh Hammond, die Wes-Kaapse onderwysdepartement se woordvoerder, word skoolinskrywings vir gr. 1 en gr. 8 in Maart/April van die vorige skooljaar gedoen, maar het hulle vanjaar 'n hele paar laatinskrywings gekry. Volgens haar kon hulle egter meeste leerders geplaas kry.
"Die proses word aanlyn gedoen. Sodra hierdie tydperk gesluit is, bly die toelatingswerf oop vir laat aansoeke. In Julie word die terrein dan gesluit - en aansoeke kan dan by distrikskantore gedoen word."
Volgens haar belemmer laat aansoeke hulle pogings om tydige plasing te verseker.
"As ons byvoorbeeld duisende laat aansoeke op die eerste skooldag kry, kan ons nie vooraf daarvoor beplan nie. Dit is dus in die beste belang van die ouer, leerder en die departement as almal in die Maart/April-periode aansoek doen."
Ouers wat nog nie vir die 2024-skooljaar aansoek gedoen het nie moet dit so gou moontlik by hul naaste onderwysdistrikskantoor doen. Die WKOD sal hul bes doen om elke leerder, vir wie 'n aansoek ontvang word te plaas, maar hulle wil dit duidelik maak dat skole in die Wes-Kaap vol is.
Distrikskantoorbesonderhede is by https://wcedonline.westerncape.gov.za/contact/districts beskikbaar.
Sien fotogalery vir nog graadeen foto's.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’