OUDTSHOORN NUUS - Die toestand van die oewers van die Grobbelaarsrivier is skokkend.
Dit het ses lede van 'n buurtwag in Wesbank, Oudtshoorn, Saterdag ontdek toe hulle besluit het om presies uit te vind wat in die bosse langs die rivier wat tussen huise in Wesbank deurvloei, aangaan.
"Almal weet dat daar mense in die bosse bly en almal weet ook dat dit 'n broeiplek vir misdaad is, maar niks word daaraan gedoen nie," het een van hulle die naweek gesê toe hy foto's van tonele aan die koerant gewys het.
Volgens hom het hulle slegs die gedeelte tussen Vrede- en Albertstraat verken.
"Die doringbosse is so dig dat ons glad nie op party plekke kon uitkom nie, maar ek kan nie beskryf hoe dit daar lyk nie, reg langs 'n rivier wat die landbou moet voed," het hy gesê.
Daar is op twee plekke afgekom waar mense permanent woon en by een van die plekke was daar ook mense wat gekonfronteer is.
Op foto's lê rommel die bosse vol en daar is duidelike tekens dat items wat vermoedelik gesteel is, daar uitmekaar gehaal is en ook versteek word. Daar is afgekom op duur vroueklere, skoene, juweliersware en die oorblyfsel van elektroniese toestelle soos mikrogolfoonde en sakrekenaars.
"Die plek stink vreeslik, want oral lê menslike ontlasting. Ek kan nie glo dat die owerhede nog nie opgetree het nie, al is dit bloot uit 'n gesondheidsoogpunt."
Een van die buurtwaglede se honde by 'n hoop rommel langs die rivier.
Die eienaar van 'n gastehuis wat aan die rivier grens het slegs 'n week gelede gesê hy is radeloos met die verliese wat hy ly as mense snags vanaf die rivier op sy eiendom toeslaan om pype en enigiets wat hulle kan afbreek te steel.
"Hulle verdwyn dan net weer in die rivier in en mens sien hulle eers weer as hulle weer toeslaan."
Volgens 'n lid van die buurtwag gaan hulle die rivier gereeld besoek en stelselmatig begin "skoonmaak".
"Ons kan nie langer toelaat dat mense se eiendom gesteel word en dat die rivier in so 'n toestand is nie."
'n Navraag oor die voorkoms van misdaad wat aan die toeneem is, asook die situasie by die rivier is aan die polisie sowel as die munisipaliteit gestuur en daar word op terugvoering gewag.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'