OUDTSHOORN NUUS - 'n Beloning is uitgeloof vir inligting oor die persoon of persone wat Maandag 'n bergskilpad langs die sementpad met klippe doodgegooi het.
Colleen Smith, voorsitter van Oudtshoorn Dogs in Need (ODIN), het die beloning uitgeloof. Rina Erasmus, die vrou wat op die skilpad afgekom het, sê sy is verbitterd oor die voorval.
"Al die boere naby my ken die skilpad. Almal help om vir hom bakke met water uit te sit en selfs kropslaai of iets te gee sodat hy kan eet."
Volgens haar het sy die skilpad Sondag gevoer en Maandag toe sy by die plaas se hek uitry het sy op die afgryslike toneel afgekom.
"Ek was baie ontsteld. Daardie arme skilpad het nie verdien om so dood te gaan nie. Dit was so moeilik om daardie foto te neem wat ek op Facebook gesit het, maar ek wil hê mense moet bewus wees van die wrede goed wat met diere aangevang word en hulle moet besef dat dit wat hulle doen verkeerd is."
Smith sê sy is ewe ontsteld oor die sinnelose aksie.
"Die skilpad het niemand skade aangedoen nie. Ons doen 'n beroep op mense in daardie omgewing om hul ore op die grond te hou vir enige inligting wat met daardie voorval verband hou.
Hulle kan die inligting aan ons verskaf. Ons loof ook 'n beloning uit vir korrekte inligting wat moontlik tot vervolging kan lei."
Smith sê hulle het Woensdag 'n voorval in die dorp gehad waar 'n man 'n skilpad aan inwoners probeer verkoop het.
"Ons het die man opgespoor en die skilpad na die skut geneem. Hy was egter vreeslik gedehidreer. Mense moet onthou dit is traumaties vir skilpaaie om opgetel te word.
Sodra hulle opgetel word, urineer hulle en dit vat 'n ruk om daardie vog weer in die skilpad se liggaam terug te sit. Wanneer skilpaaie opgetel moet word is dit wys om iets hard onder die skilpad se lyf te sit sodat hy dink hy is nog op die grond."
Smith bedank almal in die gemeenskap wat reeds betrokke geraak het by die bekamping van dieremishandeling in die Oudtshoorn-omgewing.
"Ek weet saam met die gemeenskap kan ons 'n daadwerklike verskil maak."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'