OUDTSHOORN NUUS - 'n Man van Dysselsdorp wat op Kersdag 2017 'n 10-jarige meisie met sy windbuks raakgeskiet het, is in die Oudtshoorn-streekhof skuldig bevind aan aanranding met die doel om ernstig te beseer en vir twee jaar onder huisarres geplaas.
Daniel Botha is deur streeklanddros Daniel Boks vrygespreek op 'n klagte van poging tot moord omdat dit nie sy doel was nie.
'n Groepie kinders het op die feesdag in die straat voor sy huis klappers geskiet toe Botha sy windbuks uitgehaal het om hulle te verjaag.
Volgens die kind se ma, Erica September, is die windbukspatroon nog nie verwyder nie omdat dit op 'n sensitiewe plek naby die kind se hart vassteek en 'n operasie moontlik haar dood kan veroorsaak.
Die saak is in Juniemaand vanjaar in die landdroshof van die hofrol verwyder na 'n gesloer met die polisie se ondersoek, maar weer later teruggeplaas en na die streekhof oorgeplaas.
Botha is tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is. Daarbenewens is hy tot 24 maande korrektiewe toesig gevonnis wat huisarres vir 24 uur per dag behels vir die volle duur van die vonnis behalwe vir werk- en kerkdoeleindes.
Hy moet hom weerhou van die gebruik van dwelms en alkohol en 18 uur per maand gratis gemeenskapswerk doen.
Die hof het ook gelas dat hy voor 30 Desember 'n bedrag van R2 000 aan die kind se moeder betaal.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'