OUDTSHOORN NUUS - Die plaaslike brandweer het Maandagaand gespook om 'n brand, wat by die polisie-akademie op Oudtshoorn se skietbaan uitgebreek het, te blus.
Met die aankoms van die Oudtshoorn Courant op die toneel was die ry teerpale wat die skietbaan se afstande aandui reeds aan die brand.
'n Sterk wind het die bestryding bemoeilik en die brand het na die res van die skietbaan versprei.
Volgens kapt. Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, het die gras aan die brand geraak na 'n amptelike nagskietoefening.
"Tydens die oefening het die gras aan die brand geraak, vermoedelik van 'n fakkel wat lig maak. Hulle het dit probeer blus, maar die brand het te vinnig versprei," het hy gesê.
Volgens Visser is die skade wat aangerig is nog nie bepaal nie.
Volgens onbevestigde inligting van 'n bron by die akademie kan die skade miljoene rande beloop.
Lees vorige artikels:
• Opvolg: brand by skietbaan
• Brand ontstaan by skietbaan
ARTIKEL EN FOTO: LIEZL VAN NIERK, OUDTSHOORN COURANT JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'