OUDTSHOORN NUUS - Vyftien junior jagters het hul eerste module van die Suid-Kaap Jagters- en Bewaringsvereninging (SJB) se CHASA-kursus voltooi.
Dit het op die Wouter de Vos-skietbaan buite Klein-Brakrivier plaasgevind.
Hierdie eerste module van die CHASA-kursus fokus op skietopleiding en die tweede module wat volgende jaar in die jagveld aangebied word, sal op veldkennis en ook 'n jag van 'n springbok insluit.
Met die intrapslag elke student individuele evaluering ondergaan aangaande basiese vuurwapenhantering, asook skietvernuf met 'n .22 LR. Die oefening is aan die einde van die kursus herhaal en merkwaardige verbetering bemerk.
Amper 1 500 skote is afgevuur om sodoende die studente vertroud te maak met skietkuns uit verskillende posisies op rooibokteikens, ghongs en bewegende teikens. 'n Boslaan is ook opgestel om 'n ware jagsituasie voor te stel.
Op die Saterdag, 5 Oktober is oorgeskakel na .222- en .223-senterslaggewere. Om toelating te verkry tot module twee moes die studente die voorgeskrewe skiettoets op rooibokteikens slaag. Vuurwapenveiligheid, veilige hantering van vuurwapens, dissipline, vuurwapen-instandhouding, koeltrajek en die montering van 'n teleskoop was deel van die kursus.
Vir verdere inligting kan Fermi Meyer (072 444 8236) gekontak word. Die kursus word elke tweede jaar aangebied vir junior jagters.
SJB nooi al sy lede en nie-lede uit na die gewilde ghong/spanskiet wat op 17 November plaasvind op Aangenaam naby De Rust. Daar is onder andere 'n gelukstrekking ter waarde van R12 800 op die spel. Voorafinskrywings is noodsaaklik. Stuur navrae na info@suidkaapjagters.co.za.
Matthys Lourens tydens sy skietopleiding.
Pierre Fouché wys trots na sy groepering.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'