Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - Dokters het vir haar gesê dat sy waarskynlik nooit sal kan sing nie en dat sy met 'n hees stem sal praat, maar Leigh-Ann Coetzee-Noemdoe het almal die teendeel bewys.
Coetzee-Noemdoe (41), wat reeds vir ongeveer 20 jaar 'n toergids by die Kango-grotte buite Oudtshoorn is, het onlangs op Facebook opslae gemaak na daar 'n video van haar geplaas is waar sy in een van die kamers in die grotte sing.
"Die dokters het op laerskool vir my gesê dat ek vratte op my stembande het en dit het veroorsaak dat ek nie regtig kon praat nie. My ma en ouma het dit ook gehad. Ek het twee operasies gehad om dit te verwyder."
Volgens Coetzee-Noemdoe het hulle eendag 'n leesoefening in die klas gedoen toe die dokter vir haar gesê het dat sy 'n "melodieuse stem" het.
"Ek het gedink dit is 'n belediging, maar ek het nie eintlik geweet wat dit beteken nie. Daarna het ek meer selfvertroue begin kry. In st. 6 het ek in die bad gesit en sing toe my ma verbaas na my toe kom en vir my sê dat ek baie mooi kan sing. Ek het toe ook 'n solo gekry om te sing."
Haar sangtalent is egter nie iets wat sy met almal wil deel nie en wil sy ook nie 'n beroep daarvan maak nie.
Kyk 'n video hieronder:
"Ek was in Bridgton Sekondêr op skool en het Duits as 'n ekstra taal gehad. Ek doen dus toere vir Duitse toergroepe. Ek het begin sing vir hulle omdat ek nie heeltemal sterk was in die taal nie en gehoop het dat hulle dalk 'n ekstra spesiale ervaring kan hê as ek dalk vir hulle sing. Daarna het Duitsers vir die 'singende toergids' begin vra."
Coetzee-Noemdoe sê sy is eintlik 'n baie skaam persoon en sing nie vir al die toergroepe nie.
"Ek doen dit net voor mense wat my gemaklik maak. Ek sing nie eens voor my kollegas nie."
Coetzee-Noemdoe is ook 'n ma van twee dogters waarvan die jongste 2 jaar oud is en die oudste 21 en is tans besig met haar studies in Stellenbosch. Sy woon saam met haar man in Oudtshoorn.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'