KLEIN KAROO NUUS - Die Wes-Kaapse minister van menslike nedersettings,Tertuis Simmers, het verlede week Calitzdorp en Dysselsdorp besoek om behuisingsgeleenthede te bepreek en ook om die eerste sooi vir die nuwe behuisingsprojek in Dysselsdorp te spit.
Dysselsdorp
Die eerste sooi vir 'n behuisingsprojek van 534 wooneenhede is Vrydag in Dysselsdorp deur Simmers gespit.
Die Dysselsdorp-ontwikkelingsprojek van R129 miljoen is, volgens Simmers, die eerste in 26 jaar en sal werksgeleenthede aan ten minste 128 inwoners van Dysselsdorp bied met.
Dertig plaaslike subkontrakteurs is as diensverskaffers geregistreer en die eerste 150 eenhede behoort voor die einde van die huidige boekjaar aan begunstigdes oorhandig te word.
Volgens Simmers sal die projek 'n lewenslange droom vir baie inwoners laat waar word om in verbeterde omstandighede te woon.
Volgens hom sal die projek ook die landskap van die gemeenskap van Dysselsdorp verander. Hy sê die Wes-Kaapse regering bly daartoe verbind om behuisingsgeleenthede te verskaf.
Calitzdorp
Simmers het in Calitzdorp terugvoering aan die gemeenskap oor die Bergsig-behuisingsontwikkelingsprojek gegee wat reeds in die 2010/2011 boekjaar goedgekeur is. Daar was beoog dat die projek 692 behuisingsgeleenthede oor drie fases sou oplewer. Tot dusver is 501 huise oorhandig.
Simmers het ook tydens die besoek gesê dat daar bewerings was dat die Kannaland-munisipaliteit huise aan verkeerde begunstigdes toegeken het. Die departement het die saak ondersoek en bevind dat daar wel in fase 1 begunstigdes was wat huise ontvang het, maar nie moes gekry het nie.
Die implementeringsagent het ook bevestig dat 241 uit die 250 huise in fase 1 oorgedra is en dat prosesse begin is om die uitstaande oordragte af te handel.
Die implementeringsagent het verder bevestig dat die regulering van die mense wat in fase 1 onreëlmatige huise toegeken is, sedertdien op die subsidiestelsel gereguleer is. Daar is ook bevind dat die begunstigdes wat deur die onreëlmatige toewysing van huise deur die Kannaland-munisipaliteit in fase 1 nadelig geraak is, in fase 2 gehelp is.
Na die ongeruimdhede het die departement opdrag gegee dat geen verdere huise gebou mag word nie.
Die munisipaliteit en die agent moet dus eers 'n volledige lys van begunstigdes wat huise in fase 1 en 2, met erfnommers en bevestiging van oordragte ontvang het, aanstuur. Die departement sal die lys vergelyk met inligting wat op die subsidiestelsel is. Daarna sal die departement bevestig of die munisipaliteit mag voortgaan met die bou van die 179 huise.
Simmers het gesê: "Ek wil die inwoners bedank dat hulle my die geleentheid gebied het om hulle oor hierdie belangrike kwessie toe te spreek. Hoe moeilik dit ook al was, was dit van kritieke belang om feitelike inligting rondom hierdie projek te verskaf, sodat alle onakkuraathede reggestel kon word."
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'