OUDTSHOORN NUUS - Nkosinathi Sibiya en Charné Swart het verlede Saterdag hakskene gewys vir hul teenstanders tydens die jaarlikse Karoo-straatmyl wat in Baron van Rheedestraat gehou was.
Sibiya is tans 'n student verbonde aan die universiteit van Johannesburg terwyl Swart medies by Tuks studeer.
Vanjaar se 13de Klein-Karoo-straatmyl is in reënerige toestande beslis, maar het nietemin 'n groot, entoesiastiese skare gelok.
Sibya, wat ook drie keer nasionale kampioen oor die 1500 m-afstand is, het die straatmyl in die manswedloop onder vier minute (3:59,19) voltooi wat ook bekend staan as 'n droommyl.
Tydens die wedloop is hy hoofsaaklik uitgedaag deur Christopher Swart (NWU) wat tweede geëindig het in 4:00,19 met Bafana Mnyakeni (Kovsie AC) wat in die derde plek was met 'n tyd van 4:01,25. Al drie atlete wat die podium posisies ingepalm het, was nuwe atlete tot dié straatmylreeks. Die manswedloop was ook gekenmerk aan stortreën en 'n stywe wind wat Sibya se oorwinning en droommyl selfs meer merkwaardig maak.
Die einste Sibya het ook eergister (Maandag) geseëvier in die Swartberg-baanmylwedren wat by De Jager-sportkompleks se atletiekbaan beslis is. Ook hier het hy 'n droommyl onder vier minute behaal!
Swart het op haar beurt in die Klein-Karoo-straatmyl vrouewedloop, met 400 m oor, begin wegtrek van Kesa Molotsane om met 'n tyd van (4:37:26) te wen. Swart se tyd was minder as een sekonde buite Carina Viljoen se baanrekordtyd van 4:36,33. Dit hou belofte in vir die jongeling wat beter bekend is as 'n 800 m-hardloper.
Die 20-jarige Stephany Pedro, wat nou vir die Noordwes-Universiteit hardloop en voorheen van George was, het in 'n geloofwaardige vierde posisie geëindig. Die eerste drie plekke in vanjaar se vrouewedloop was ook almal nuwelinge.
Tydens die Swartberg-baanstraatmyle het Kesa Molotsane 'n verrassing opgelewer toe sy Charne Swart by die wenstreep verbygesteek het om eerste posisie in te neem in 'n tyd van 4:55,91 teenoor Swart se 4:56,01.
Die status van straatmyle binne wêreldatletiek is onlangs verhoog deurdat Wêreldatletiek dit bygevoeg het tot die nuwe wêreldpadkampioenskapprogram wat vanjaar vir die eerste keer op 1 Oktober in Latvia aangebied word.
Die Eden-straatmylreeks bied ook aan atlete die geleentheid om deur Atletiek SA se keurders raakgesien te word.
Die Eden-straatmylreeks sluit vandag (Woensdag 21 Desember) in Hartenbos af.
Van links is Charné Swart (wenner), Janie van Rensburg (derde) en Kesa Molotsane wat in die tweede plek by die Karoo-straatmyl geëindig het.
Van links is Christopher Swart (tweede plek), Nkosinathi Sibiya (wenner) en Bafana Mnyakeni wat in die derde plek by die Karoo-straatmyl geëindig het.
Charné Swart storm na die eindstreep in die Karoo-straatmyl.
Kesa Molotsane (geel) het 'n verrassing opgelewer toe sy Charné Swart by die wenstreep verbygesteek het tydens die Swartberg-baanmyl by die De Jager-sportkompleks se atletiekbaan. Foto's: verskaf
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'